Lughawe-bomaanval: Dodetal styg

Foto: AP Photo/Emrah Gurel

Foto: AP Photo/Emrah Gurel

Die dodetal in die bomaanval op Istanboel se Ataturk-lughawe in Turkye het gestyg en dit is nou ook bekend hoeveel buitelanders in die aanval dood is.

Die dodetal in Dinsdagaand se aanval het tot 41 gestyg, wat 13 buitelanders insluit. Vyf van die oorledenes is van Saoedi-Arabië, twee van Irak, een elk van Tunisië, Oezbekistan, China, Iran, Oekraïne en Jordanië.

Binali Yildirim, Turkye se eerste minister, het gesê volgens alle aanduidings was die Islamitiese Staat (IS) verantwoordelik vir die aanval. Die drie selfmoordbomaanvallers het met ʼn taxi by die lughawe aangekom en het op mense begin losbrand voordat hulle hulself opgeblaas het.

Volgens ʼn beampte van die Turkse regering, het die aanvallers die ploftoestel by die ingang van die internasionale terminaal laat ontplof.

Die lughawe is na afloop van die aanval vir ʼn paar ure gesluit, maar die bedrywighede is nou weer deels hervat. Niemand het nog verantwoordelikheid aanvaar vir dié aanval waarin die gebou ook erg beskadig is nie.

Volgens ooggetuies en plaaslike media was daar chaos en paniek in die oomblikke net ná die aanval wat gemik was op die aankomssale.

Foto: AP Photo/Omer Kuscu

Foto: AP Photo/Omer Kuscu

Turkish Airlines moes meer as 340 vlugte kanselleer en het intussen probeer om passasiers se geld terug te gee of te reël vir alternatiewe kaartjies.

Die jongste aanval kom te midde van Turkye se toerismesektor wat reeds onder geweldige druk verkeer weens terreuraanvalle en ʼn diplomatieke uitval met Rusland. Die getal buitelandse besoekers het in Mei met 35 % gedaal.

President Tayyip Erdogan van Turkye het die aanval, wat in die heilige maand van Ramadan plaasgevind het, veroordeel. Hy het gesê die aanval wys “terreur vind plaas sonder die inagneming van geloof en waardes”.

Die IS het die afgelope paar jaar verantwoordelikheid aanvaar vir talle aanvalle in Turkye, maar dié jongste aanval word reeds as die ergste in meer as ʼn dekade bestempel.

Foto: AP Photo/Emrah Gurel

Foto: AP Photo/Emrah Gurel

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.