Lugredery gaan nou alle paspoorte nagaan

paspoortAirAsia-lugredery het Dinsdag gesê hy gaan van Junie 2014 die paspoorte van alle passasiers teen Interpol se databasis van 42 miljoen gesteelde of verlore reisdokumente nagaan.

ʼn Ondersoek na die vermiste Vlug 370 van Malaysia Airlines het bevind dat twee passasiers die vliegtuig met gesteelde paspoorte betree het. Interpol sê hy het inligting gehad oor die diefstal van die paspoorte, maar die owerhede het nie sy databasis nagegaan nie.

AirAsia, wat ook in Maleisië gebaseer is, het gesê hy sal Interpol se “I-Checkit”-stelsel gebruik om paspoorte na te gaan. Die lugredery het daagliks nagenoeg 600 internasionale vlugte van 100 lughawens. Volgens die lugredery sal geen persoonlike besonderhede aan Interpol deurgestuur word buiten paspoortnommers en land van oorsprong nie.

Minder as 10 lande kontroleer soms passasiers se reisdokumente teen Interpol se databasis. Meer as 1 miljard passasiers het verlede jaar vliegtuie betree sonder dat hul paspoorte nagegaan is, volgens Interpol.

Die twee mans wat met gesteelde paspoorte toegang bekom het tot Malaysia Airlines Vlug 370 was van Iran wat onwettig na Europa wou migreer. Hulle was nie terroriste nie. Die Boeing 777 met 239 persone aan boord het op 8 Maart van Kuala Lumpur na Beijing gereis toe dit verdwyn het. Daar was nog geen teken van die vermiste vliegtuig of sy wrak nie. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.