Lugredery gekap ná hond in bagasiekas vrek

Een van Maggie Gremminger se twiets oor die voorval. Foto: Twitter

ʼn Amerikaanse gesin is gebroke nadat hul tien maande oue hond dood is toe ʼn lugwaardin daarop aangedring het dat die hond in die oorhoofse bagasiekas van die vliegtuig geplaas moet word.

BBC berig die voorval het Maandag op ʼn United Airlines vlug van Houston na New York gebeur. Dié vlug is ongeveer drie en ʼn half uur lank.

Die eienaar van die hond het saam met haar kinders en die hond na New York gevlieg. Volgens mediaberigte was die hond, ʼn Franse bulhond, in ʼn lugredery-goedgekeurde troeteldier-drasak op die vliegtuig gebring. Die vrou wou die drasak onder haar sitplek bêre, maar die lugwaardin het daarop aangedring dat die sak in die oorhoofse bagasiekas geplaas word.

Toe die eienaar van die hond die bagasiekas oopmaak nadat die vliegtuig geland het, was haar hond dood.

Dié skokvoorval het aan die lig gekom nadat een van die ander passasiers, Maggie Gremminger, besonderhede daaroor op Twitter gedeel het. “[Die hond se eienaar] het net in die vliegtuig se paadjie op die vloer gesit en huil. Al die passasiers om haar was heeltemal geskok,” het Gremminger getwiet.

“Ek is gewalg en getraumatiseerd. Troeteldiere is familie. Hoe kan ʼn opgeleide lugwaardin ʼn passasier opdrag gee om haar hond in daardie kas te sit? Dit was haar werk om die vliegtuig en sy reëls en beperkinge te verstaan.”

Die voorval het wyd opslae veroorsaak en verskeie internasionale nuusagentskappe het daaroor berig. Talle mense het ook op sosiale media uitgevaar en die lugredery skerp gekritiseer. Sommige mense het selfs vir Gremminger beskuldig en haar gevra hoekom sy niks gedoen het om die lugwaardin te keer nie.

The Guardian berig Maggie Schmerin, ʼn woordvoerder vir United Airlines, het die voorval as “tragies” bestempel en gesê troeteldiere moet nooit in die oorhoofse bagasiebak geplaas word nie. Volgens die nuusagentskap het die lugredery die gesin vir hul vliegkaartjies vergoed en het United Airlines onderneem om die voorval te ondersoek.

Dit is nie die eerste keer dat United Airlines gekritiseer word vir sy behandeling van diere nie. Verlede jaar is die lugredery gedagvaar deur die eienaars van ʼn haas wat op een van die lugredery se vlugte gevrek het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Anoniem ·

Dit is onaanvaarbaar ! Moenie dat hulle hiermee wegkom nie ! Diere moet met respek behandel word ! Gryp die lugredery en dan die onbeholpe Lugwaardin ! Sy kan gerus maar tjaila !

KG ·

Ek neem aan jy maak die stelling omdat jy reaksie wil uitlok of jy is duidelik nie ‘n diere liefhebber nie.

Maggie ·

Net so. Jy en vroulief kan mos weer n ander baba maak indien een van jou kindertjies dooi.

Talita ·

Dit is ‘n lelike aanmerking van jou Buurman! As jou kind dood hoop ek ook jy gaan weeshuis toe om ‘n ander een te gaan haal!!!

HOEKOM ·

Ek raai dis seker die regte terme, maar ek het ‘n kleintjie dood as mense praat van ‘n dier wat VREK…kan mens nie maar liewer sê DOOD gaan nie.?

Lola ·

Ek stem nogal saam HOEKOM. Maar ook, het sy vir +/- 4 ure nie een keer haar gaai gelug om die oorhoofse bagasie kas oopgemaak en gekyk of haar hondjie ok is nie? Baie hartseer.

Karien ·

Geen dier hoort tussen mense op n vliegtuig nie, nie onder die sitplek of selfs in die bagasiekas nie. Hulle hoort in n goedgekeurde hok in die bagasieruimte. Dis hoe ons hond gevlieg het. Hoe kan hulle eers n hond toelaat so op n vliegtuig, klein of de nie. Wat as iemand allergies is vir honde en hul bors bors? Hierdie was onverantwoordelik van beide kante.

M ·

Ek stem volkome saam met jou Karien. Geen troeteldier mag tussen mense op n vliegtuig vervoer word nie. Dit hoort in die bagasieruim.

Maria ·

Ek vertstaan nie jul redenasie nie…n dier het ook n reg om ordentlike behandel te word en hoor nie regtig by bagasie nie…hy/sy is nie n stuk bagasie nie…so hoort gids honde ook in die bagasie ruim ? Nee kyk ek stem nie saam met julle nie want as dit n diere vriendelike vlug is en die hond was in die dra sak waarin hy moes wees kon hy by hul voete gebly het. Wat n aardige dood om te sterf…kyk jy moet mens en dier behandel soos wat jy behandel wil word en ek glo nie een van jul sal in die bagasie ruim wil wees as jy mag wees waar ander passasiers is nie ?

Katie ·

Stem saam met ‘Hoekom’. ‘Vrek’ klink so onsensitief en ongevoelig.

GM ·

@Hoekom, ek stem saam met jou. ‘n Persoon wat lui is, is gevrek. Ek haat dit as hul praat van ‘n dier wat vrek. Dink nou net as ons moet begin praat van hul gesinslede wat gevrek het, soos wat hul van jou gesinslid (die hondekind) praat.

MG ·

Karien, dit mag eintlik hoor. Ek het vir ‘n lugredery gewerk en op meeste vlugte mag dit. Dit hang als af van waar tot waar mens vlieg en of jou hond/kat voldoen aan die grootte en gewig van om binne die vliegtuig te kan vlieg. Nie alle maatskappye laat dit toe nie maar dit mag. Sommige maarskappye laat dit selfs toe in besigheids klas en eerste klas, glo dit of nie. Nie lekker nie neem ek aan as mens allergies is ens, ek het altyd daaraan gedink. Hoop dit maak duidelik. Groete, mg:-)

Catherine ·

Ek stem saam dat my hond saam met my vlieg. In sy eie hokkie by my voete. Allergies is die ander ou se probleem. Wat maak hy as die dame agter hom se parfuum hom pla?? Gaan sy ook verban word na die bagasie ruim??

My Mening ·

Magie en Talita, dis bietjie rof om n kind met n hond te vergelyk.
Ek is lief vir diere, maar moenie se dis dieselfde as kinders nie.
Jy het nie daai hond vir nege maande gedra en geboorte geskenk daaraan nie.
Moenie sulke goed se nie.. Dis tragies, maar uit die aard van die saak gaan sy n ander hond moet kry.

Catherine ·

So waar!! Mense stel diere bo mense lewens. Wat gaan aan in die wereld. Ons is oor diere aangestel. Moet hul goed versorg maar !!!

Semaarnet ·

Dis interessant dat Catherine se haar diere kry voorkeur oor n ander persoon se allergiee en dan in die volgende asem verstom dit haar as mense diere bo nense plaas…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.