Lugvaartgroep wil 200 Boeing 737 Max-stralers aankoop

‘n Boeing 737 MAX 8 ter illustrasie. Foto: (AP Photo/Ted S. Warren)

International Airline Group (IAG), een van die wêreld se grootste lugvaartgroepe, het Woensdag aangekondig hy wil sy toekomstige vloot met die omstrede Boeing 737 MAX uitbrei deur 200 van dié stralers aan te koop.

Die internasionale lugvaartreus Boeing het oor die afgelope maande die wind van voor gekry nadat vlugte van dié spesifieke Boeing-modelle wêreldwyd, ná twee dodelike ongelukke, opgeskort is. ’n Boeing 737 Max 8 het in Addis Abeba in Ethiopië neergestort kort nadat dit opgestyg het. Al 157 mense aan boord is dood.

Dié ongeluk was net enkele maande ná die dood van 189 mense aan boord van ʼn vlug van Indonesië se Lion Air. Die vliegtuig het in Oktober verlede jaar neergestort.

Boeing het sedertdien nuwe stelsels bekend gemaak om die sagteware van sy teenspoedige 737 Max 8-stralers te verbeter.

Die lugvaartreus en IAG het in ʼn gesamentlike verklaring gesê die twee maatskappye was in gesprek oor die moontlikheid dat IAG nog stralers aankoop, waarna hulle ʼn ooreenkoms by die Paryse lugskou in Frankryk ter waarde van US$24 miljard aangegaan het.

IAG is die moedermaatskappy van Aer Lingus, British Airways, Iberia, Vueling en LEVEL wat altesaam meer as 113 miljoen passasiers per jaar vervoer.

Die groep is geen vreemdeling wanneer dit by Boeing se vliegtuie kom nie. IAG het net vroeër vanjaar ʼn bestelling vir Boeing se jongste langafstandmodel, die 777X, ingedien om sy vloot 777’s en nuwe 787 Dreamliners aan te vul.

Willie Walsh, uitvoerende hoof van IAG, het gesê die groep oorweeg die 737 MAX om sy toekomstige vloot te diversifiseer en glo dat dié stralers ʼn aanwins vir die groep gaan wees.

“Ons het alle vertroue in Boeing en verwag dat dié vliegtuig in die komende maande ’n suksesvolle terugkeer gaan maak nadat die reguleerders dit goedgekeur het.”

Volgens IAG sal die 737 Max 8-straler, wat tot 178 passasiers kan vervoer, saam met die groter 737 MAX 10-stralers, wat tot 230 passasiers kan vervoer, gebruik word.

Kevin McAllister, president en uitvoerende hoof van Boeing se kommersiële vliegtuie, het gesê hulle voel geëerd deur IAG se besluit om hul vertroue in die 737 MAX te plaas en sien uit na ʼn suksesvolle vennootskap tussen dié twee maatskappye.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gert van Wierdapark ·

Hoop nie SAL se nuwe Waarnemend CEO kry nou ook aankoop-gedagtes nie!!! Miskien sal Boeing rubber tjeks aanvaar?

Leon ·

Boeing gebruik seker Microsoft Windows 10 vir hulle stralers. LOL.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.