Luislang sleep vyfjarige swembad in

Argieffoto (Foto: Pixabay)

’n Vyfjarige seuntjie van Australië het wonderbaarlik oorleef nadat hy deur ’n drie meter lange luislang ’n swembad ingesleep is.

Die slang – wat omtrent drie keer die seuntjie se grootte is – het Beau Blake gepik, verstrengel en toe die swembad ingesleep.

Beau het op die rand van ’n swembad in Byronbaai gespeel toe die enorme reptiel uit die bosse gekom en hom aan sy enkel gepik het. Die slang het sy lyf om Beau se been gedraai en hom onder die water die swembad ingesleep.

“Ek glo die luislang het gelê en gewag vir ’n prooi, wat toe Beau was,” vertel Beau se pa, Ben.

Die kind se 76-jarige oupa, Allan, het die toneel voor hom sien afspeel en in die swembad geduik om sy kleinkind te red.

Allan het Beau vir Ben aangegee om die slang van Beau se been los te trek.

“Dit het my 15 tot 20 sekondes gevat om die slang van my seun se been los te trek. Die ding het toe terug die bosse ingeseil.”

Volgens Ben was Beau baie dapper en sterk hy goed aan.

“Toe ons die bloed aan sy wond – waar die slang hom gepik het – skoonmaak, het ons hom gerusgestel dat hy nie gaan sterf nie, want dit was nie ’n giftige slang nie.”

Hoewel luislange nie giftig is nie, word die vyfjarige behandel om te voorkom dat die bytplek infeksie kry.

Ben het gebeure as “ietwat van ’n beproewing” beskryf en bygevoeg dat slange algemeen in Byronbaai voorkom. Byronbaai is ’n gewilde toeristedorp en die branderplankry-mekka, agt ure se ry noord van Sydney.

“Dit is Australië. Jy kan daarvan seker wees dat jy ’n slang sal teëkom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Harley Davidson ·

Slange ,duiwelse troeteldiere,ek maak hulle op sig dood giftig of nie .

Dirk ·

Julle vlak van onnoselheid wys met die klas van kommentaar. Die slang het niks met die duiwel uit te waai nie. Daardie dier het ‘n plek in die natuur en dit dien ‘n belangrike doel.

Agge nee ·

Luislange pik nie, hulle byt. Groot, vuil tande en daarom praat die pa aan die einde van ‘n bytplek wat ontsmet moet word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.