Luislange val deur plafon

Die plafon waardeur die slange geval het (Foto: Brisbane North Snake Catchers and Relocation)

’n Man van Queensland in Australië het vandeesweek met sy tuiskoms ’n nare verrassing gekry nadat twee yslike luislange deur sy plafon geval en in die huis rondgeseil het.

Die slange het deur die plafon in die kombuis geval waarna David Tate Maandag met sy tuiskoms die een slang in die sitkamer en die ander in sy slaapkamer aangetref het.

Tate het aan The Courier-Mail gesê hy het dadelik ’n slangvanger ontbied om die twee te vang. “Ek wou hulle beslis nie self hanteer nie,” het hy vertel.

BBC berig Steven Brown, slangvanger van Brisbane North Snake Catchers and Relocation, het tot Tate se redding gekom en die slange sonder moeite gevang en in die bosse vrygelaat.

Volgens Brown het hy lanklaas met sulke groot en vet slange te doen gekry. Die slange was onderskeidelik 2,8 en 2,5 meter lank en het gesamentlik sowat 22 kg geweeg.

Brown meen die twee slange het moontlik oor ’n wyfie baklei toe hulle deur die plafon geval het. Daar is egter nog geen teken van die wyfie nie en daar word vermoed dat sy steeds in die huis of in Tate se tuin skuil.

Tate het gesê hy het vantevore al gesien hoe slange op sy dak in die son bak.

Brown het verduidelik dat die slangseisoen vanjaar vroeër in Australië begin het. “Die slang- en broeiseisoen begin normaalweg op die eerste dag van lente waarna ek eers ’n paar weke daarna baie oproepe begin kry … maar hierdie seisoen het vroeg begin en dit is besig.

“Ek dink dit is vanweë die warm winter wat ons gehad het … ons het nie so koud gekry soos gewoonlik nie.”

Volgens Tate is hy glad nie opgewonde oor die wyfie wat moontlik haar opwagting in sy huis kan maak nie, berig The Daily Mail.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Eiervrug ·

As dit nou in Suid Afrika was, sou niemand opgetel het as jy bel nie, en dan word hulle seker maar met klippe gegooi totdat hulle dood is… Lekker om te hoor dat daar nog lande is waar goed werk soos dit moet…

Eclectus ·

Hoekom? Watter regering department wil jy bel? Dit wil voorkom jy het nog nie moeite gedoen het om uit te vind of iemand in jou omgewing slange verwyder nie. Probeer bietjie en hou die nommer(s) byderhand. Beter nog, doen ‘n slang hanteringskursus en hou jou foon aan.

Leeuwyfie ·

Ek dink hy moet trek…so gou moontlik…ek hoor NZ het niks slange nie.

Eclectus ·

Ysland, Ierland, Nieu-Seeland en ‘n paar afgesonderde eilande is plekke waar geen wilde slang voorkom nie. As daar wel is, is hulle deur mense bekendgestel.

Daleen ·

As dit in my huis gebeur het was AVBOB gebel – nie ‘n slangvanger nie – want ek sou net daar en dan ‘ n hartaanval gekry het. Kan nie eers na die fotos in die artikel kyk nie. Ek het doodse vrees vir slange – giftig of nie.

Peetjie ·

Ek verkas net daar….sal nie daar kan bly nie, dis soos n nagmerrie wat waar word…

katerinadiekat ·

Wat n ding om te gebeur..Ek is net bang vir giftige slange maar luislange kan mens dood druk, so mens moet vir hulle ook maar versigtig wees. Ek sou baie seker wou wees dat almal gevang is voor ek aanbly in daardie huis.

Vriendelike Frikkie ·

Nuwe spannings riller fliek:- “Snakes on a Ceiling”

Veronika ·

Niemand sou my ooit weer skoongekry het nie,,,,,,,,,,,,,,,,

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.