Luister: Anina Peens oor uitdagings van verslaggewing in Oekraïne

Anina Peens by ‘n grensgebied. (Foto: Verskaf)

Dit sit nie in enigeen se broek om ʼn oorloggeteisterde gebied sonder beskerming, die nodige taalvaardighede, genoegsame hulpbronne of ʼn werkbare plan van aksie te besoek nie.

As Carte Blanche-vervaardiger en uitsaaijoernalis weet Anina Peens egter dat joernalistieke nuuskierigheid dikwels vrees kan oorkom en dat geleenthede soos dié wat sy in Oekraïne ervaar het, skaars vir Suid-Afrikaanse media is.

Peens en ʼn kameraman het onlangs twee weke in Oos-Europa deurgebring met die doel om stories van mense wat op verskillende maniere deur die konflik tussen Rusland en Oekraïne geraak is, te vertel.

Maar soos sy in dié podsending aan Maroela Media vertel, is die grootste uitwerking van só ervaring nie noodwendig die vrae wat daardeur beantwoord is nie, maar eerder die talle vrae wat steeds daarna onbeantwoord gelaat word.

“Dis baie moeilik om só ʼn besoek te beskryf want in my geval is die gevolge daarvan nie tasbaar nie. Dit kan nie lekker in woorde omskryf word nie, maar jy dra dit elke dag saam met jou.”

Peens vertel dat hul Oekraïne via die Roemeense grens binnegegaan het en dikwels van vriendelike vreemdelinge of welsynsorganisasies vir saamrygeleenthede afhanklik was. Boonop het die komplekse taalversperrings en deurlopende vrees wat daar onder inwoners en vlugtelinge oor die media gekweek is, onderhoude uiters uitdagend gemaak.

Vlugtelinge by ‘n Oekraïense grens. (Foto: Verskaf)

“Ek het myself as joernalis tot die uiterste gedruk want ek moes te midde van ʼn logistieke nagmerrie berig oor ʼn oorlog waarop ek eenvoudig net nie my vinger kon lê nie.”

Peens vertel dat hul ook dikwels in Oekraïne deur militêre magte en selfs gewone landsburgers voorgekeer en as spioene uitgekryt is.

“Dit is vir Oekraïners ondenkbaar dat Suid-Afrikaanse media gewillig sal wees om hul tuisland te midde van die geweld te besoek. Jy móét dan ʼn spioen wees, daar is vir hulle geen ander verduideliking nie.”

Sy gesels verder in die podsending ook oor die oggend wat sy deur sirenes wakker geruk is toe die hawestad Odessa deur Russiese vuurpyle getref is en die moeilike besluit wat sy moes neem om daarna uit die land te onttrek.

Daar is dikwels massiewe versperrings op paaie te sien. (Foto: Verskaf)

Inhoud wat strydig is met die algemene narratief wat tans deur talle hoofstroommediabronne vanuit Oekraïne die wêreld ingestuur word, loop natuurlik die gevaar om as propaganda bestempel te word.

Peens het besluit om haar eerder toe te spits op die hartroerende ontmoetings met vlugtelinge op grense eerder as interaksies met individue wat uiteenlopende en onverwagse uitlatings oor onder meer die Europese Unie, Biden en selfs die Russiese ryk gemaak het.

Steeds skets haar besoek ʼn interessante prentjie oor hoe min ʼn mens werklik van ʼn oorlog weet tensy jy persoonlik op die voorste linies is.

Waar presies daardie linies is, is egter volgens Peens baie onduidelik en boonop dra dit tot inwoners se vrese by.

“Dit voel asof die wolke in Oekraïne laer hang en of die vrees in die lug op jou bors kom lê,” verduidelik sy. “Daar is nie definitiewe grense of teikens nie; so jy weet ook nie eintlik waar jy mag en nie mag wees nie.”

Hoewel sy nie te veel daaroor mag uitbrei nie, skerts sy dat Oekraïne soos Suid-Afrika ook nie oral slaggat of korrupsie vry is nie. “Ek wens mense kan sien hoe party welsynsorganisasies vlugtelinge misbruik om foto’s en beeldmateriaal te kry sodat hulle meer befondsing kan kry.”

Ongeag die uitdagings het Peens steeds vir Suid-Afrikaanse gehore die voorreg gebied om dié oorlog op ʼn treffende manier deur die lens van ons eie joernaliste te ervaar.

Dit het egter ook moontlik opnuut bewys dat gebalanseerde en billike oorlogverslaggewing nie ʼn maklike taak is nie. Nie eens in 2022 nie.

  • Anina Peens het met Maroela Media gesels oor haar ervaringe tydens twee weke in die Oekraïne-streek vir die vervaardiging van ʼn Carte Blanche-insetsel. Luister na die gesprek boaan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hein ·

Hoop sy gee die ware nuus deur en nie die strooi wat ons daagliks sien nie.

Marthinus W ·

Waarom mag sy nie oor Oekraine se korrupsie uitbrei nie?

Johan ·

Dit is teen die hoofstroom en sal as propaganda afgemaak word. Onthou, die Öekraine was n paradys voor dit deur Rusland agresief sonder enige rede ingeval is….dit is wat mense moet glo en dit is wat aan ons opgedis word. Die massas glo dit ongelukkig ook.

Treurwilger ·

Dit is “strydig met die algemene narratief”, soos in die insiggewende artikel genoem word.

annie ·

Anina klink nader aan ‘n joernalis wat kan dink as van die ander wat slaafs naskryf wat ander dink. Ons hoop sy loop nie vir Zolly raak nie…

Treurwilger ·

Kan glo dit was ‘n ondervinding en ‘n half.
Volpunte vir Anina Peens wat ten minste erken dat “gebalanseerde en billike oorlogverslaggewing nie ‘n maklike taak is nie”.
Gemanipuleerde foto’s en beeldmateriaal deur welsynsorganisasies vir groter impak, interessant.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.