Luukse motors, sigare en villa op Maradona-veiling

‘n Villa wat aan Mardona behoort het, is een van die items wat opgeveil gaan word. (Foto: Juan Mabromata/AFP)

Alles van ʼn knoopdas tot twee BMW’s en ʼn boks Kubaanse sigare – asook sy ouers se huis – is onder die byna 90 items wat eens aan die Argentynse sokkerster Diego Maradona behoort het en Sondag in ʼn aanlyn veiling in Buenos Aires verkoop is.

Meer as 1 000 mense het geregistreer om aan die veilig deel te neem.

Die minimum verkoopprys van die 87 boditems wissel van $50 (sowat R793) tot $900 000 (sowat R14 miljoen), sê Adrian Mercado, die organiseerder van die veiling.

“Die kinders het ʼn wonderlike versameling van sy besittings bymekaargesit. Die items waaraan die meeste emosie gekoppel is, of met die beste herinneringe of grootste passie, sal deur die familie gehou word.”

Die huis wat opgeveil word, is in Buenos Aires se Villa Devoto-buurt en is die een wat Maradona in die 1980’s aan sy ouers gegee het toe “Nommer 10” vir die span Boca Juniors gespeel het.

“Die jare het verbygegaan, die klubs die stories en die wêreldbekers, maar die huis op Cantilostraat was altyd Maradona se plek,” lui ʼn boodskap op die veilingswebwerf.

Wêrelde verwyder van die nederige huis in ʼn arm woonbuurt waar Maradona in 1960 gebore is, is die villa wat hy aan sy ouers gegee en waar hulle tot sy dood op 25 November verlede jaar gewoon het, gerieflik – indien nie luuks nie – met onder meer ʼn swembad. Die reserweprys is aangedui as $900 000 (sowat R14 miljoen).

Betaal skuld

Diego Maradona in Maart verlede jaar. Hy is in November 2020 dood. (Foto: Alejandro Pagni/AFP)

Ook op aanbod is twee BMW’s, ʼn Hyundai-bakkie en ʼn tweeslaapkamer woonstel in die dorpie Mar de Plata.

Verder te koop is ʼn trapmeul wat Maradona gebruik het terwyl hy ʼn span in Dubai afgerig het, ʼn foto van die ster saam met die Kubaanse leier Fidel Castro en ʼn houer met Kubaanse sigare.

ʼn Handgeskrewe brief deur Castro word egter nie soos verwag te koop aangebied nie.

Knoopdasse, pette, stewels en sporttoerusting, asook ses TV’s, meubels, gim-toerusting, skilderye en foto’s word ingevolge ʼn bevel deur regter Luciana Tedesco opgeveil. Die opbrengs van die veiling sal gebruik word om skuld in die boedel, asook ander uitgawes, te betaal en gaan na nie na Maradona se erfgename nie.

Die hof moet besluit hoe daar van enige items wat nie verkoop word nie, ontslae geraak gaan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.