Luxon as Nieu-Seelandse premier beëdig

Christopher Luxon (Foto: X)

Christopher Luxon, eens uitvoerende hoof van Air New Zealand en ʼn man wat maar vier jaar gelede tot die politiek toegetree het, is Maandag formeel as Nieu-Seelandse eerste minister beëdig.

Hy het onderneem om inflasie in dié land in bedwang te bring en rentekoerse te verlaag.

“Die nommer een taak is om die ekonomie reg te ruk,” het Luxon Maandag aan verslaggewers gesê. “Ons moet lewenskoste verminder en inflasie onder beheer kry sodat ons rentekoerse kan verlaag en kos meer bekostigbaar kan maak.”

Luxon het ook gesê sy administrasie sal oor die volgende paar maande fokus op die herstel van wet en orde in Nieu-Seeland en die verbetering van regeringsdienste.

Luxon is Nieu-Seeland se 42ste premier nadat daar ná uitgerekte koalisiegesprekke eindelik Vrydag ʼn ooreenkoms aangegaan is.

Luxon se Nasionale Party het ʼn koalisie met die konserwatiewe ACT en populistiese New Zealand First-party gesluit en beskik nou oor 123 setels in die Nieu-Seelandse parlement.

Die amp van adjunk-premier sal vir die eerste keer in Nieu-Seeland se geskiedenis in twee termyne van 18 maande elk gedeel word.

Winston Peters (78) is dus Maandag as adjunk-premier beëdig. David Seymour, leier van die ACT, sal aan die einde van Mei 2025 die leisels by Peters oorneem vir die res van die parlementêre termyn van drie jaar.

Luxon het ses weke gelede by Jacinda Ardern as Nieu-Seelandse eerste minister oorgeneem nadat sy Nasionale Party in Oktober die nasionale verkiesing gewen en ʼn einde aan die Arbeidersparty se ses jaar lange bewind gemaak het.

Dié party het onder leiding van Ardern gespook om die stygende lewenskoste in bedwang te bring – ʼn wêreldwye kwessie wat deels te wyte is aan die Covid-19-pandemie en Rusland se inval van Oekraïne verlede jaar.

Maroela Media het vroeër berig Ardern het begin vanjaar bedank omdat sy bloot nie meer “genoeg in die tenk” oor het om as eerste minister van Nieu-Seeland te dien nie.

Luxon se nuwe kabinet sal nou oor die volgende twee dae vergader om hul planne vir die eerste 100 dae aan bewind te bepaal.

“Ons sal hoofsaaklik daarop fokus om die onderliggende oorsaak van inflasie te pak,” het Luxon gesê.

“Dit beteken ʼn reeks dinge om seker te maak ons ​​genereer besparings uit die staatsdiens en dat staatsbesteding omsigtig is.”

Hy het ook gesê sy regering sal die teen-rookwetgewing wat verlede jaar aanvaar is, skrap voordat dit in werking tree weens vrese vir ʼn florerende swart mark.

Die wetgewing sou enigiemand wat op of ná 1 Januarie 2009 gebore is, verbied om sigarette of tabakprodukte te koop.

Luxon het Maandag toegegee dat die belastinginkomste uit voortgesette sigaretverkope ’n welkome inkomste vir die regering sal wees, maar dit duidelik gestel dat die inkomste “nie die motivering is” vir die besluit om die wetgewing te skrap nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gawie ·

Ardern het geweet sy gaan die verkiesing verloor, toe bedank sy vroegtydig om haarself die verleentheid te spaar as ‘n eersteminister wat ‘n verkiesing verloor het.

Hennie Biebouw ·

Luxon het NIE ses weke gelede by Jacinda Ardern as Nieu-Seelandse eerste minister oorgeneem nie.

Jacinda Ardern het in Januarie bedank en is vervang deur Chris Hipkins as Nieu-Seelandse eerste minister.

Republikein in die Wes Kaap ·

Hipkins het net haar lessenaarlaaie en kaste skoongemaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.