Lyke, wrakstukke gekry ná vliegtuig verdwyn

ʼn Vliegtuig se wiel dryf in die see suidwes van die Tanintharyi-gebied in Mianmar (8 Junie 2017). Foto: Xinhua/Defense Services Office

Die weermag in Mianmar het Donderdag gesê wrakstukke en liggame is gevind nadat ʼn militêre vliegtuig, met 122 mense aan boord, Woensdag oor die Andaman-see verdwyn het.

Volgens Min Aung Hlaing, die weermaghoof, se amptelike Facebook-blad het soekspanne die liggame van twee volwassenes en een kind, asook lewensreddingsbaadjies, bagasie en wrakstukke van die vliegtuig in die see gevind. Dit is omstreeks 08:00 ongeveer 35 km suidwes van die Launglon-nedersetting in die Tanintharyi-gebied gevind.

Die Shaanxi-Y8-vliegtuig het omstreeks 13:35 Woensdag van radarskerms af verdwyn. Skepe, helikopters en vliegtuie is ontplooi om na die vliegtuig te soek, maar die see was baie onstuimig tydens die soektog. Dosyne soldate en hul families, asook 14 bemanningslede was aan boord toe die vliegtuig verdwyn het.

Die Mianmar-weermag het in sy jongste verklaring die loods van die vliegtuig as lt.kol. Nyein Chan geïdentifiseer. Hy was vergesel deur sy medeloodse, lt.kol. Soe Thu Win en maj. Thant Zin Htay.

Mianmar se vliegtuie is berug vir hul swak veiligheidsrekord. In Februarie 2016 is vyf mense dood nadat ʼn vliegtuig buite Naypyitaw, die politieke hoofstad, neergestort het. In 2012 het ʼn kommersiële vlug van Air Bagan op Kersdag aan die brand geslaan tydens sy landing by die Heho-lughawe. Twee mense is in hierdie voorval dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.