Ma, baba gered ná gebou ineenstort

Argieffoto: Phillip Bruwer

ʼn Ma en baba van Frankryk het Dinsdag ʼn noue ontkoming gehad toe ʼn drieverdiepingwoonstelgebou ná ʼn vermoedelike gasontploffing ineengestort het.

Die ma en baba was twee van vyf mense wat in die puin van dié gebou in die Mediterreense kusstad Sanary-sur-Mer in Frankryk  vasgekeer was.

Inwoners sê die gasontploffing kon byna agt kilometer ver gehoor word. Twee aangrensende geboue is ook erg in die ontploffing beskadig.

Franse reddingwerkers kon drie van die vyf mense in die woonstelgebou red en is nog op soek na die oorblywende twee.

Volgens die reddingswerkers was die vrou en baba by hul volle bewussyn toe hulle opgespoor is. Die derde persoon wat gevind is, was bewusteloos.

“Dit het meer as twee ure geneem om die baba uit te kry. Hy is deur noodpersoneel op die toneel behandel en dit gaan goed met hom,” het kol. Eric Grohin van die streeksbrandweer gesê.

Volgens die Franse regering het noodspanne op die terrein ʼn sterk gasreuk geruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.