Ma, baba sterf dae uitmekaar in Nieu-Seeland

Charitha Meepegama en sy vrou, Nilakshani (Nishi) Silva. (Foto: Facebook)

’n Pa van Auckland in Nieu-Seeland versoek dat ’n ondersoek gelas word nadat sy vrou vroeër die maand tydens ʼn bevalling gesterf het en hul pasgebore dogtertjie enkele dae later dood is.

Die kleinding was aan lewensondersteunende apparaat gekoppel voordat haar pa die moeilike besluit moes neem om die apparaat af te laat skakel.

Charitha Meepegama het onlangs aan Weekend Herald gesê sy vrou, Nilakshani (Nishi) Silva, het vroeër vandeesmaand ʼn noodkeisersnee in ʼn ambulans ondergaan nadat haar hart op pad na die hospitaal gaan staan het. Sy is kort ná die keisersnee dood.

Die egpaar se baba, Eliana, is ná die geboorte in die ambulans na ’n hospitaal in Auckland gehaas waar die lewensondersteunende apparaat vier dae later afgeskakel is. Eliana het skade aan haar brein en hart opgedoen weens ’n tekort aan suurstof toe haar ma se hart gaan staan het.

Ma en dogter is saam begrawe.

Meepegama soek nou antwoorde.

“Ek weet nie wat om te doen of hoe ek moet aangaan nie. My hele lewe is net so uitgewis,” het ’n gebroke Meepegama aan Weekend Herald gesê.

“Ons was so opgewonde. Ons het al ons geld gespaar om ʼn bababedjie, ʼn stootwaentjie en babaklere van goeie gehalte te koop. Ons was so gelukkig. Dit was die laaste gesprek wat ons gehad het.”

Meepegama vertel dat die egpaar die aand voor die bevalling omstreeks 22:30 gaan slaap het. Silva het ’n uur later gesukkel om asem te haal. ’n Ambulans is ontbied en paramedici het haar by hul aankoms kort ná middernag op die vloer neergelê om Silva met haar asemhaling te help.

Boodskappe aan Silva se vroedvrou het onbeantwoord gebly.

Silva se toestand het vinnig versleg en paramedici het haar in die ambulans na die Auckland-hospitaal gehaas. Paramedici was egter genoodsaak om ’n noodkeisersnee in die ambulans uit te voer en Eliana is in die ambulans gebore.

Dokters het aan Meepegama gesê dat sy vrou aan ’n bloedklont oorlede is. “Ek verstaan ​​dit nie. Nishi was fiks en gesond en het geen probleme tydens haar swangerskap gehad nie. Hulle het in die ambulans gesê dat haar hart werk en toe stop dit. Hulle moes daarom die baba net daar en dan uitkry.”

Meepegama wil nou weet waarom Silva se vroedvrou aanbeveel het dat sy natuurlik geboorte moet skenk.

“Nishi het die vroedvrou op 38 weke vir ’n keisersnee gevra. Ek het aangebied om dit te betaal, maar die vroedvrou het nee gesê. Sy het gesê alles is normaal en hulle doen slegs ʼn keisersnee as daar komplikasies met die swangerskap is.”

Volgens Meepegama is die vroedvrou baie geskok ná Silva se dood. “Sy het nie om verskoning gevra nie. Sy het niks gesê nie. Ek het vir haar gesê dat my vrou nog sou lewe indien sy vroeër ʼn keisersnee ondergaan het.”

Weekend Herald het nie die identiteit van die vroedvrou bekend gemaak nie, maar het verneem dat sy glo by die Auckland-hospitaal werk. Die vroedvrou het by navraag haar medelye met die familie betuig, maar wou geen verdere kommentaar lewer nie.

Dr. Mike Shepherd, direkteur van verskaffingsdienste by die Auckland-hospitaal, het in ʼn verklaring gesê dat hy om etiese en privaatheidsredes nie kommentaar kan lewer oor die besonderhede van individuele pasiëntesorg nie.

“Ons het groot simpatie met die familie van Nilakshani en baba Eliana en ons betuig ons medelye.

“Daar is altyd ʼn klein risiko vir komplikasies met swangerskap. Ons verstaan ​​hoe moeilik dit vir gesinne kan wees as komplikasies voorkom.”

Volgens Shepherd is ’n ondersoek van stapel gestuur hoewel dit in dié stadium blyk dat alle toepaslike kliniese riglyne in die sorg van Nilakshani en baba Eliana gevolg is.

Meepegama sê egter hy is kwaad en het geen vertroue meer in Nieu-Seeland se gesondheidstelsel nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

summie ·

Vroedvroue het seker hulle plek in die samelewing, maar daar kan nie altyd nèt op hulle staatgemaak word nie. Ek voel ‘n pt moet ten minste 1 of 2 gedurende die swangerskap ‘n dr ook gaan sien. Hoekom het die pa toe nie maar sy vrou na n dr geneem toe die vroedvrou weier dat die pt op 38 weke ‘n keisesnit kry nie, dis tog nie sy wat die keisersnee doen nie? Ons ken nie die detail nie, maar ek sou graag meer wou weet wat daar gebeur het. Die arme man, dit is tragies wat gebeur het.

Karen ·

Normale, gesonde geen komplikasie swangerskap. Net dokters kan besluit oor keisersnee. Vroedvroue kan nie keisersnee uitvoer nie

Botterblommetjie ·

Vreeslik hartseer…. Ek besef die man is in rou en skok. Ongelukkig besef hy nie op die stadium hoe goed hulle gesondheidsorg is nie… Ons was daar, nou is jy gelukkig as iemand opdaag en die ambulans nie langs die pad uitgebrand word nie of as informele vervoer van iets gebruik word nie…. Hoe tragies, hier is ons land is tragedie deel van ons lewens.

Stofdonkie ·

Hy moet bietjie hier in SA kom kuier as hy reken daar is gesondheidsorg wat nie vertrou kan word nie.

Filistyn ·

Stofdonkie . dit is nie nou die tyd vir vergelykings nie. Dit het in NZ gebeur, en is ‘n tragedie. Ek voel uit my hart jammer vir die man.

Toy ·

Sy het dalk gesterf agv ‘n bloedklont. Dit is hoekom sy nie asem kon kry nie. Dit is hartseer.

Misky ·

Baie tragies, my hart gaan uit na hom. Hoop hy vind die antwoorde wat vertroosting sal bring

Niklaas ·

Jammer vir hom. Tragiese dubbel verlies vir die arme man.

Onnie ·

Ek weet hy soek iemand om te blameer vir sy seer, maar die mediese personeel gee hul beste. Miskien glo hy dat sy familie beter gesondheidsorg in Indië of Bangladesh sou kry. NZ se gesondheidsorg is van hoogstaande gehalte. Ek sou ook eerder ‘n opgeleide dokter raadpleeg oor my swangerskap ipv ‘n vroedvrou – dit is immers 2021.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.