Ma beken moord op siek dogter

Lawrence het verlede week in die Napier-hooggeregshof verskyn. (Foto: Rebekah Parsons-King/RNZ)

ʼn Ma van Nieu-Seeland het skuld beken op die moord van haar terminale siek dogter vroeër vanjaar. Haar 28-jarige dogter was weens ʼn ernstige siekte tot ʼn rolstoel beperk en het heeltyds sorg benodig.

Volgens die Nieu-Seelandse nuuswebwerf RNZ het Cherlyene May Lawrence (49) in Februarie beplan om haar dogter, Chevana Marie Fox, te vermoor en dan selfmoord te pleeg. Sy het Fox in haar bed verwurg, maar teen die selfmoordpoging besluit.

Fox is as tiener met Huntington se siekte gediagnoseer. Dit is ʼn ongeneeslike neurologiese toestand wat veroorsaak dat selle in die brein afbreek.

Toe Lawrence weer tot haar sinne kom, het sy glo paniekerig geraak en nooddienste na die huis ontbied. Fox is na die hospitaal geneem waar sy met ʼn breinbesering weens verwurging gediagnoseer is.

Haar neurologiese toestand het nie verbeter nie en sy is op 28 Februarie, sowat ʼn maand ná die voorval, in die Hawke’s Bay-hospitaal in Hastings oorlede.

Lawrence het verlede week in die Napier-hooggeregshof skuldig gepleit op die moord van haar dogter.

Volgens Lawrence was sy lank van slaap ontneem, aangesien sy die meeste aande saam met haar siek dogter deurgebring het. Sy was glo bang dat Fox haar versorgers sou aanval.

Huntington se siekte, ʼn seldsame siektetoestand, veroorsaak kognitiewe en psigiatriese probleme en Fox het glo gesukkel om onder meer te praat, lees en skryf. Sy het glo ook gereeld woede-uitbarstings gehad wat sy op haar ma en versorgers sou uithaal, beweer Lawrence.

Fox het etlike jare in die Hastings-versorgingsoord deurgebring en is verlede jaar na die Hawke’s Bay-hospitaal se eenheid vir geestesgesondheid oorgeplaas. Sy is in November verlede jaar in die sorg van haar ma ontslaan, maar is daagliks deur versorgers besoek, berig die Nieu-Seeland Herald.

Volgens dokumente wat aan die hof oorhandig is, het Lawrence gereeld gefrustreerd geraak deur haar dogter se uitbarstings. Sy het glo in Januarie vanjaar vir haar ma ʼn boodskap gestuur waarin sy sê sy gaan Fox vermoor.

Weens ʼn misverstand met die koördineerder vir gemeenskapsdiens was daar nie ʼn versorger die aand voor die voorval beskikbaar nie. Die volgende dag het Lawrence die versorger vroeg huis toe gestuur en Fox gewurg.

“Ek kon dit nie meer hanteer nie, so ek het haar verwurg. Ek het my dogter verwurg. Sy is dood,” het Lawrence destyds aan nooddienste gesê.

Volgens Lawrence het Fox daagliks probeer om selfmoord te pleeg, berig RNZ.

“Sy het gely en het gereeld enigiets probeer gryp om haarself dood te maak. Ek het soveel goed uit die huis verwyder omdat sy haarself wou seermaak. Sy wou nie meer leef nie.”

Lawrence het later aan die polisie vertel van die pyn wat sy verduur het om haar dogter so te sien ly.

“Sy het geen lewensgehalte meer gehad nie.”

Lawrence is Donderdag op borgtog vrygelaat en sal na verwagting 5 November weer in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Elize ·

Ek kry sulke ouers vreeslik jammer. Wat sy gedoen het was verkeerd maar sy het ook solank as wat daardie kind gelewe het die hel ervaar.

Wicus ·

Ek het al baie geworstel met die vraag mag mens ‘n lewe neem as daar geen hoop meer is nie, en wat van jouself. Moet mens deur die swaar en lyding gaan. ‘n Vriend het homself en sy vrou jare terug uit die lewe gehaal na sy soortgelyk opgetree het na ‘n motor ongeluk en dit het my beginsels geweldig op die proef gestel. Ons glo mens mag nie ‘n lewe neem nie, maar die vraag is is dit nie juis moderne medisyne wat ‘n lewe verleng wat eintlik nie meer sougewees het nie. Ek dink op die ou end sou ek dieselfde as die ma gedoen het.

modiglianigirl ·

Die berig en die feite daarvan skets ‘n baie oppervlakkig onrealistiese prentjie. Om in daardie situasie te wees is glad nie so netjies en beredeneerd as wat buitestaanders dit ervaar nie. Dié arme mense is deur ‘n hel wat slegs hulle ken en self ook nie van kan sin maak nie. Ek kan geen uitspraak maak óf oordeel vel nie. Dit is hartseer.

Lanfear ·

Dit is tragies, en na regte moet die ma eintelik nie van moord aangekla word nie. Dit was genade dood, genade vir haar and haar dogter. Hoop die hof is nie te hard op haar nie. Dit was miskien nie reg wat sy gedoen het nie, maar dit is nie asof sy ‘n krimineel is wat weer iemand gaan dood maak nie. Mense soos die ma gaan deur absolute hel met sulke gevalle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.