Ma deel hartroerende brief ná baba se hartoorplanting

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Brief van ʼn ma aan ʼn ander ma wie se baba dood is en sy hart aan haar baba geskenk het, maak wyd opslae op sosiale media.

Danielle Wakefield, ʼn fotograaf, het die oomblik in die Seattle-kinderhospitaal in Washington, VSA vasgevang toe Mindy en Robert Lee Seay die nuus gekry het dat hul babaseuntjie, Lincoln, ʼn hartoorplanting sal ontvang.

The Washington Post berig Lincoln is met ʼn hartdefek gebore en moes slegs ure ná sy geboorte reeds sy eerste hartoperasie ontvang. Toe hy net meer as vyf maande oud was, het dokters aan sy ouers gesê dat indien hy nie binne ses weke ʼn nuwe hart ontvang nie, hy nie sou oorleef nie. Op 18 Februarie, drie dae ná die ses weke-sperdatum, het die Seay-egpaar gehoor dat ʼn skenkerhart vir Lincoln gevind is. Die hart is daardie selfde aand nog in Lincoln se lyfie oorgeplant.

Mindy het daarna ʼn ope brief geskryf aan die ma wie se baba se hart Lincoln ontvang het. “Ek wil hê jy moet weet dat daar nie woorde is om my dankbaarheid uit te spreek vir die ma wat jy in daardie laaste oomblikke [van jou kind se lewe] was nie en dat jy gewillig en in staat was om so onbaatsugtig aan ʼn ander persoon te gee. Ons paadjies mag dalk nooit kruis nie, maar ons sal altyd op ʼn bonatuurlike, spirituele manier verbind wees. Jou kind en myne is vir ewig verbind deur die hart wat in jou baarmoeder gevorm is nou in die liggaam van die kind klop wat in myne gevorm is. Hulle het op ʼn manier een geword en jou kind sal vir ewig voortleef in myne,” het Mindy geskryf.

“Wanneer my kind bloei, sal ek aan jou dink. Wanneer ek sy stukkende knie verbind, sal ek aan jou dink. Wanneer ek sy hart hoor klop, sal ek jou onthou. Wanneer sy oë toegaan soos hy aan die slaap raak, sal ek jou pragtige kind onthou. Ek sal vir ewig hierdie geskenk wat jy ons gegee het koester. Ek belowe.”

Die brief is sedert sy plasing reeds meer as 4 000 keer gedeel. Kyk gerus die foto’s en lees die volledige brief hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jan ·

Op hierdie Sondag, die opstandingsdag laat hierdie brief my dink aan God wat sy Seun gegee het, sodat ek en jy vir ewig kan lewe! Vir Hom, deur Hom, tot Hom, uit Hom! Wat n wonderlike Vader is Hy nie!! :)

AmY ·

Dis lekker om so vroeg op ‘n Sondag so lekker goeie nuus-storie te lees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.