Ma, kinders dood in huis aangetref

Die polisie in die Amerikaanse deelstaat Arkansas ondersoek ʼn saak van moord nadat ʼn 24-jarige vrou en haar twee kinders, onderskeidelik vier en vyf jaar oud, dood in hul woonstel aangetref is.

Steve Moore, ʼn woordvoerder van die Arkansas-polisie, het aan die nuuswebwerf CBS gesê die polisie is Dinsdag deur ʼn familielid na die gesin se woning in Little Rock ontbied nadat die twee kinders nie vir skool opgedaag het nie en die familielid nie die ma telefonies in die hande kon kry nie.

Die polisie het met hul aankoms op die toneel die liggame van die drie slagoffers aangetref. Moore het nie bevestig hoe die slagoffers dood is nie.

“Daar heers nog onsekerheid oor presies wanneer die voorval plaasgevind het,” het hy gesê.

Polisiebeamptes in dié deelstaat het glo op sosiale media aangedui dat hulle op soek is na die vrou se motor wat ook nie meer op die perseel was nie.

Jeff Williams, ʼn buurman van die gesin, het aan die televisiekanaal KTHV gesê die nuus van die gesin se afsterwe is “tragies”. “Ek het hulle vir ʼn hele paar dae lank nie gesien nie. En toe skielik kom al die nuus. Ek het geen woorde nie,” het hy gesê.

Polisie in Arkansas is sedert die begin van die jaar besig om verhoogde misdaad in die deelstaat ʼn nekslag te probeer toedien. ʼn Totaal van 55 persone is sedert die begin van die jaar in dié staat vermoor.

Moore het gesê ʼn saak van moord word verder ondersoek. Geen motief vir die moord is in dié stadium bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

kat ·

Ons het gnoeg moord en doodslag in S A- wil nie nog USA se moord en doodslag van hoor nie.

Eugene ·

Regte kop-in-die-sand sindroom. As ek nie daarvan weet nie, traak dit my nie. Ons hoor skaars van al die moord en doodslag hier by ons, en more trek jou geliefde Arkansas toe en reken alles is hunky-dory. Dit is beter om ‘n ingeligte swaap te wees, as ‘n oningeligte slimkop.

Hansie slim ·

Stem nie saam met Kat nie. Partykeer is dit nodig om te hoor dit gaan nie net sleg hier nie… ook elders. Wat sleg is om te hoor is dat daar word dit ondersoek..

Chanel ·

En as ons wil hê die buitelanders moet met ons hier simpatiseer, dan moet ons mos dieselfde met hulle doen.
Dis dalk hoe hulle ook redeneer en dan nie omgee oor al die moord en doodslag hier nie…..

M ·

SJOE, 55 persone vir die jaar hier is dit dieselfde hoeveelheid per dag!! Skokkend

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.