Ma se moord jare later opgelos danksy bytmerk

Die vermoorde Cheri Huss. (Foto: Staatsaanklaer, Riverside County)

Amper 30 jaar ná die moord op ʼn ma van drie in die Amerikaanse deelstaat Kalifornië, kon polisie daarin slaag om ʼn verdagte te identifiseer en in hegtenis te neem. Dit danksy DNS wat uit ʼn bytmerk op die slagoffer se liggaam geneem is.

Cheri Huss is in April 1994 dood in haar woonstel in die stad Desert Hot Springs in Riverside County aangetref. Sy het verskeie steekwonde en ʼn bytmerk opgedoen. ʼn 48-jarige man, ook van Riverside County, is Vrydag, 28 jaar later, vir haar moord in hegtenis geneem.

Luidens ʼn verklaring deur die kantoor van die staatsaanklaar in Riverside County, het die ondersoek na Huss se moord doodgeloop, totdat nuwe inligting in Februarie aan die lig gekom het.

“Die DNS wat uit speeksel in die bytmerk sowel as bloed op die toneel gevind is, het met mekaar ooreengestem, maar kon nie met een van die DNS-monsters in die polisie se DNS-databasis verbind word nie. Verlede maand is die DNS egter deur middel van forensies-genetiese genealogie aan ʼn verdagte verbind.” Só kon die polisie ʼn hofbevel kry om ʼn speekselmonster van die 48-jarige Sharron Eugene Gadlin te kry. Dit het ooreengestem met die speeksel wat uit die bytmerk op die oorledene se liggaam geneem is en Gadlin is gevolglik Vrydag langs die pad afgetrek en in hegtenis geneem. Hy word nou aangekla van Huss se moord en is tans in aanhouding,” lui die verklaring.

“Ek hoop Cheri se familie kan nou eindelik die geregtigheid kry wat hulle verdien en so lank voor gewag het,” het staatsaanklaer Mike Hestrin gesê. “Ons ondersoekspan sal voortgaan om die nuutste tegnologie aan te wend om ou moordsake reg oor Riverside County op te los en ons vervolgingspan sal dié moordenaars aanhou vervolg tot geregtigheid vir hul slagoffers geskied.”

Maroela Media het verlede maand berig oor nóg ʼn ou moordsaak wat amper 60 jaar later opgelos is, danksy nuwe DNS-tegnologie en ʼn jong bloedlynkenner. Marise Ann Chiverella is in 1964 in Pennsilvanië vermoor. Die polisie het haar moordenaar in Februarie as oorlede James Paul Forte geïdentifiseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Darts girl ·

Kyk al het dit so lank gevat om die moordenaar te kry, het hul nie op gegee nie. Ek is baie bly dat haar familie nou vertroosing kan kry en die laaste stukkies van hul hartseer kan verwerk. Sterkte aan die familie

JL ·

Welgedaan. Dis hoe ‘n wetstoepassing-stelsel en “Law and Order” moet werk. Maak nie saak hoe lank dit neem nie. Daar word tred gehou met tegnologie en sake word behoorlik ondersoek en bewysstukke behoorlik geberg. Sug! Ons SAP was ook so.

Erika ·

Amerika is meer Flukser as ons Suid Afrikaanse eweknie-so seg ek

Swerwer ·

Kan dit nie maar in hierdie land vanons ook toegepas word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.