Ma skiet kinders, toe haarself

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Andri Tambunan / AFP)

ʼn Ma van Portland, Oregon, in die VSA het haar twee jong kinders Dinsdag doodgeskiet voordat sy haarself om die lewe gebring het.

Luidens internasionale berigte was Ashley Palmer (31) en haar gewese eggenoot, Jenavie (34), in ʼn smerige toesigstryd oor hul kinders, Kayleana Palmer (6) en Xavier Palmer (8), gewikkel.

Die twee is in 2018 uitmekaar en is twee jaar gelede geskei.

Die Gresham-polisie het Woensdag in ʼn verklaring bevestig dat Palmer, Kayleana en Xavier se lewelose liggame Dinsdag in ʼn woonstel aangetref is.

Oregon Live berig dat die liggame omstreeks 07:45 ontdek is nadat die polisie ʼn welsynsbesoek by die Rockwood Village-woonstelblok afgelê het.

ʼn Nadoodse ondersoek het bevestig dat dit inderdaad moord en selfmoord was.

Die kinders het tot voor hul dood gereeld tussen hul ouers se blyplekke gereis.

Die laaste keer wat Jenavie met Kayleana en Xavier gepraat het, het hulle “opgeruimd” geklink.

“Kayleana was gek oor eenhoringperde (unicorns) en kon baie mooi verf.

“Xavier was mal oor videospeletjies, treine en Lego. Hy het ook graag in die see se branders baljaar. Hulle was baie geliefd en gaan ongelooflik baie gemis word,” het Jenavie aan Oregon Live gesê.

Die polisie het nie baie inligting oor die doodsondersoek bekendgemaak nie, maar wel mense wat hulle in ʼn krisis bevind aangemoedig om hulp te soek.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.