Ma vas ná babas twee jaar uit mekaar sterf

‘n Foto van Stephany Lafountain wat deur die Fairbanks-polisiedepartement beskikbaar gestel is. (Foto: Fairbanks Police Department via AP)

ʼn Jong ma van Alaska in die VSA is aangekla van die moord op haar twee babadogters wat twee jaar uit mekaar gesterf het.

Stephany Lafountain (23) van Fairbanks word daarvan beskuldig dat sy haar 4 maande oue dogter in 2015 versmoor en dieselfde met haar 13 maande oue dogter in November 2017 gedoen het.

Lafountain is Donderdagmiddag by haar huis in hegtenis geneem. CBS News berig Eric Jewkes, polisiehoof van Fairbanks, het tydens ʼn mediakonferensie die moord op die babas as ʼn “ondenkbare tragedie” bestempel, maar nie uitgebrei oor die moontlike motief vir die moorde nie.

Lafountain was verlede jaar met ʼn soldaat getroud en het op die Fort Wainwright-weermagbasis gewoon. Volgens nuusberigte het sy op 20 November 2017 omstreeks 18:30 die nooddienste gebel en gesê haar baba haal nie asem nie. Die babadogtertjie is na ʼn hospitaal gehaas en later na ʼn tweede hospitaal oorgeplaas waar sy vier dae later gesterf het.

ʼn Ondersoek na die baba se dood is van stapel gestuur omdat sy en haar ma nie lede van die weermag is nie. Lafountain en haar man is in Februarie geskei.

As deel van die ondersoek het die polisie ook ondersoek ingestel na die dood van Lafountain se eerste baba uit ʼn vorige verhouding. Geen vuilspel is destyds vermoed nie, maar die ooreenkomste tussen die twee babas se dood het owerhede onraad laat vermoed.

Lafountain het op 15 September 2015 omstreeks 17:00 die polisie gebel en gesê haar vier maande oue baba haal nie asem nie. Die kind is na ʼn hospitaal gehaas waar sy later dood verklaar is.

Speurders sê ongeveer ʼn uur voordat Lafountain die nooddienste oor haar tweede baba gebel het, het sy op die internet gesoek vir maniere om iemand dood te maak sonder enige bewyse. Van die frases wat sy op die soekenjin ingetik het, sluit in “maniere om te versmoor”, “kan verdrinking op ʼn outopsieverslag wys”, “maniere om ʼn mens dood te maak sonder bewyse” en “verdrinking en forensies”.

Nadoodse ondersoeke wat op die babas gedoen is, het getoon beide dogtertjies was gesond en het geen genetiese abnormaliteite, siektes of beserings gehad nie. Die oorsaak van die eerste baba se dood is as onbevestig aangeteken, maar daar was tekens van versmoring. Die tweede baba is dood weens ʼn tekort aan suurstof na die brein.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Johan H. ·

Plaas julle ook Vrouemaand hou soos hier by ons,,Hier by ons word die mans afgemaak as die wreedaards dan tel hier by ons nog alles teen jou as jy wit is!! Weet nie of die” Violence teen vroues en kinders campaighn” werk nie maar sterkte aan die rond om die gesin wat die kleinding liefgehad het!!

Hansie Slim ·

Hoe kan ‘n ma so iets aan haar babas doen. Wat gaan in daai koppie aan?

Jannas ·

Maroela, regtig? Ons het so baie van ons eie misdaad nuus. Jul hoef werklik nie nog ander lande se misdaadnuus ook te rapporteer nie.

Stuiwer ·

Dis goed dat Maroela Media bietjie nuus van ander lande ook het. Ons moet bewus wees van wat om ons aan gaan in die res van die wêreld, dan sal ons ophou om so negatief oor ons eie land te wees. Ek is al so keelvol vir al die politiek, rassisme, ens., ens.

Sus ·

A nee a! Ons wil nie van ander lande se kriminele óók hoor nie!

$ ·

Jannas en Sus

Eerstens – as julle so voel oor misdaadnuus uit die buiteland, dan moet julle nie vrae vra oor waarom niemand in die buiteland omgee oor die hoë moordsyfer in SA nie. Hulle kan ook net hul oë en ore toedruk en sê hulle wil nie hoor of lees oor moorde in SA nie.

Dan – as daar nie oor misdaad in die buiteland berig word nie, kan die persepsie maklik geskep word by Suid-Afrikaners dat daar nie sulke wrede en hartelose moordenaars elders in die wêreld is nie. Hierdie berigte laat ons besef dat die res van die wêreld ook maar boos is en dat gevalle waar ouers hul kinders vermoor (waarvan ons veral onlangs talle berigte in die media gelees het) nie tot Suid-Afrika beperk is nie. So ook ander tipes misdaad.

lewies ·

Onverwerkte inter-generatiewe trauma”. Dis die siekte van die dag”

Chilli ·

Ek stem genoeg probleme in ons eie land maar dat hierdie nou n les wees vir kinders wat kinders wil he dis onaanvaarbaar

Klara ·

Hoekom word sy aangekla? Waarom sal enige iemand ontsteld wees? Duisende babatjies word daagliks deur hulle eie moeders vermoor en dit pla blykbaar niemand nie. Voor geboorte is totaal aanvaarbaar; ná geboorte word dit moord. Vreemde mensdom met dubbele standaarde tot die uiterste…

Skoonskaam ·

Ek kry skoon skaam as ek sien hoe mense se hulle wil nie ander lande se misdaad sien op ons nuus nie???? So hoekom moet ons nuus dan van belang wees in ander lande? Hou op selfsigtag wees.

Ruben ·

Jannas het iemand jou gedwing om op die berig te klik en nog verder gedwing om dit te lees

Anria ·

Ek is seker die mense wat so se hulle wil nie van ander lande se nuus lees nie, het seker ook geen idee hoekom die rand swakker raak of hoekom die petrol prys op gaan nie. Siestog… Hou op in julle boksie lewe. Daar is meer as net Suid Afrika daar buite. En soos ander gese het….as julle nie ander lande se nuus wil hoor nie, moet nie verwag dat hulle oor jou of jou familie se dood praat as jy wreedaardig vermoor word nie. Laat dit dan ook maar in die land bly waar jy net nog n nommertjie op n statistiek word.

Ai tog ·

En daar is mammas daar buite wat nie kan kinders kan he nie. So hartseer

Pippa ·

Ek wens ek kon daai dogtertjies eerder kry en as my eie liefhe.

Kobie ·

Net ‘n bietjie reaksie op van die kommentare:- ‘lewies’, wat op aarde is ‘onverwerkte inter-generatiewe trauma’?’, en ‘Ai tog’, jy sê daar is mammas wat nie kinders kan hê nie:- as dit so is is hulle mos (nog) nie mammas nie; seker net ‘vrouens’! Mooiloop!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.