Ma vas wat glo seun se siektes opmaak

Christopher se ma het na bewering sy hare afgesny en gemaak asof hy kanker het. (Foto: www.youcaring.com)

ʼn Seun van Dallas, Texas, in die VSA, moes meer as 300 onnodige doktersbesoeke, 13 nodelose operasies en lewensgevaarlike komplikasies weens mediese behandeling deurmaak omdat sy ma na bewering verskeie siektes by hom opgemaak het vandat hy gebore is.

Die Amerikaanse nuusagentskap CBS News berig die 8-jarige Christopher se ma, Kaylene Bowen-Wright (34), is op 6 Desember in hegtenis geneem en aangekla van die opsetlike besering van ʼn kind. Christopher en sy twee sibbe is verlede maand deur kinderwelsynsbeamptes van Bowen-Wright weggeneem.

Volgens CBS News het ʼn ondersoek deur die plaaslike Kinderbeskermingsdienste gevind dat Bowen-Wright vir Christopher 323 keer na verskeie dokters toe geneem het met ʼn verskeidenheid klagtes oor wat met hom fout is, en dat hy ook 13 groot operasies daarvoor moes ondergaan.

“Christopher was al op ʼn voedingbuis, beperk tot ʼn rolstoel, en hy het al bloedinfeksies opgedoen wat hom in die waakeenheid van die hospitaal laat beland het,” het CBS berig.

Die kinderbeskermingsdienste het in ʼn verslag gesê dié gedrag van Bowen-Wright kan die gevolg wees van Münchhausen Sindroom, waar ʼn versorger ʼn kind se simptome opmaak om sodoende aandag, simpatie of ander voordele te kry.

“Dié verslag het ook gevind dat Bowen-Wright haar seun se hare afgeskeer het en ʼn foto van hom in ʼn Make-A-Wish-hemp op sosiale media gedeel het waar sy beweer hy het kanker en dat sy daarvoor geld moet insamel,” het CBS berig.

Ryan Crawford, Christopher se pa, het gesê Bowen-Wright het kort na Christopher gebore is, oor sy gesondheid begin kla. “Sy het gesê Christopher sal nooit kan stap nie en dat ek moet leer om na ʼn gestremde kind om te sien,” het hy gesê.

Crawford sê Bowen-Wright het Christopher se beweerde siektes teen hom gebruik in ʼn verhoor om te bepaal wie toesig oor hul seun moet kry. “Elke keer as ons hof toe was, sou sy sê dat my seun die volgende dag gaan doodgaan,” het Crawford gesê.

Volgens hofdokumente het Christopher se mediese mishandeling in 2009 begin toe hy slegs 11 dae oud was en voortgeduur tot hy agt jaar oud was. Die saak het onder die owerhede se aandag gekom toe ʼn dokter by die Dallas Children’s Medical Center in November tydens Christopher se besoek aan die sentrum vermoed het dat Bowen-Wright moontlik lieg oor haar seun wat aanvalle kry, en die saak aangemeld het.

Sedert Christopher in pleegsorg is, het hy nog geen mediese probleme getoon nie. Bowen-Wright is tans steeds in polisieaanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Bosbok ·

Nou hoe kry n gesonde kind 13 operasies? Smaak my hulle moet die verskeie dokters ook ondersoek

Andréas ·

Verblydend om te verneem die seun is nie siek en word nou baie lyding en “chirurgie” gespaar. Wat wel baie rede tot kommer is dat hy kinderjare/ -pret ontneem is en dat dokters wel 13 maal opereer het. Volgens watter diagnose en net op aandrang van die ma wat hul voorsê? Nee wat, alles behalwe eties! Hul handeling moet ondersoek word…

andrea van vuren ·

Die ma ly aan Münchhausen-sindroom waar sy genot en bevrediging put uit haar kinders se ‘uitgedinkte’ siektes. Dis baie hartseer en kinders ly ontsettend daaronder. Die vrou moet toegesluit word!

Mnr B ·

13 operasies? Die dokters is nalatig as hulle opereer op die ma se woord aleen. Die wins motief het die dokters se morele kode laat krimp….

Karma ·

Dit is “Münchhausen by Proxy”-sindroom en dit is ‘n erkende sielkundige toestand waar (gewoonlik) die ma van ‘n kind daardie kind leed sal aandoen of sal voorgee dat die kind siek is and dan die kind tot gesondheid te ‘verpleeg’, om sodoende aandag of simpatie op hulle gevestig te kry. Ter inligting.

Cherokee ·

Daardie ma was operasioneel besig met ‘n operasie wat gelukkig stop gesit en toegewerk is.

Willie ·

Toe ek die berig se opskrif sien en die foto van die kind, dog ek “Ja Suid Afrika, dit is net hier wat dit sal gebeur” . Nogal geskok om te lees dat dit ook in die VSA gebeur.

Faidan ·

Willie, dit gebeur eintlik baie meer gereeld in die VSA. Daar was ‘n vrou wat so paar jaar terug in die VSA haar ma vermoor het oor haar ma presies dieselfde aan haar gedoen het. Sy was in haar 20’s toe sy kon “ontsnap” maar sit nou ongelukkig lewenslank in die tronk.

Marianne ·

Stem saam. As daai dokters se ondersoeke oordentlik was, sou hulle ‘n rot geruik het soos die laaste (enigste) dokter wat sy sout werd is!

Elizabeth Andrews ·

Ek stem nogal saam – hoe is dit moontlik dat dokters dit nie lankal agtergekom het nie? Kan mos nie op ‘n “gesonde” kind opereer omdat die Ma sê hy is siek nie . . . ? Nogal in die VSA met sy “gevorderde mediese navorsing/kennis/deurbrake” . . . ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.