Ma verdink ná vyf kinders dood gevind is

‘n Polisievrou staan voor die woonstelblok se ingang (Foto: Roberto Pfeil, AP)

Die liggame van vyf kinders is Donderdag in ’n woonstel in Solingen in Wes-Duitsland aangetref. Hul ma word van hul dood verdink.

Herbert Reul, die minister van binnelandse sake in die deelstaat Noordryn-Wesfale, sê die kinders se liggame is omstreeks 13:45 in die woonstel in die Hasseldelle-gebied in Solingen gevind nadat hul ouma, wat 60 km weg woon, die polisie in kennis gestel het.

Stefan Weiand, polisiewoordvoerder, sê die kinders se 27-jarige ma het ná die voorval voor ’n trein in Düsseldorf ingespring. “Die ma is tussen twee treinspore gevind en na ’n nabygeleë hospitaal gehaas. Sy is ernstig beseer en word tans onder polisiebewaking in die hospitaal behandel,” sê Weiand.

Luidens ’n berig van BBC vermoed die polisie dat die ma eers haar kinders vermoor het voordat sy haar eie lewe probeer neem het.

Die vyf kinders, twee seuns en drie meisies, was tussen een en agt jaar oud.

Volgens Sky News het ’n sesde kind, ’n 11-jarige seun, oorleef en is in ander familielede se sorg geplaas.

Volgens Weiand is dit nog onduidelik wat die oorsaak of motief van die kinders se dood is. “Die oorsaak van die kinders se dood gaan deur ondersoeke en ’n nadoodse ondersoek vasgestel word,” sê hy.

Die plaaslike nuusagentskap DW News berig die polisie hoop om meer inligting te kry sodra hulle die ma kon ondervra. Die polisie kon intussen ook die pa van die kinders van die voorval in kennis stel.

Tim Kurzbach, die burgemeester van Solingen, het die woonstelblok besoek waar die tragiese gebeure plaasgevind het. “Wat gebeur het, is onverstaanbaar. Vandag is ’n dag van rou vir die hele Solingen-gemeenskap.”

Reul het ook sy medelye aan die vyf kinders se familielede betuig.

Inwoners het Donderdag laatmiddag blomme en kerse by die ingang van die woonstelblok geplaas as ’n huldeblyk aan die kinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Ou gees

Dit skeur my hart in stukkies. Ai mamma, wat het jy gemaak?

Misky

Sy is net 27 jaar oud en het alreeds 6 kinders. Sjoe en dink alles net teveel geraak vir so jong ma, pleks sy gaan raad en hulp kry het. Tragies

MEEMS

My hart is gebreek…die onskuldige kindertjies