Ma verdrink kinders om hulle te ‘beskerm’

(Argieffoto: Unsplash)

ʼn 30-jarige ma van Los Angeles, Kalifornië, het erken dat sy haar drie jong kinders vroeër vandeesmaand verdrink het in ʼn poging om hulle teen “hul pa te beskerm”.

Volgens The Los Angeles Times het Liliana Carrillo haar driejarige dogter, Joanna, haar tweejarige seun, Terry, en ses maande oue baba, Sierra, op 10 April in ʼn woonstel in Reseda verdrink. Sy het na bewering ook ʼn mes gebruik tydens haar jongste kind se dood.

In ʼn video-onderhoud met KGET-TV het Carrillo beweer dat haar voormalige kêrel en die kinders se pa, Erik Denton, by mensehandel betrokke is. Deur die kinders dood te maak wou sy hulle glo “beskerm teen ʼn leeftyd se mishandeling”.

“Ek het hulle verdrink, maar ek het dit so saggies gedoen. Ek het hulle omhels en gesoen en die heeltyd om verskoning gevra. Ek was lief vir my kinders,” het Carrillo tydens die onderhoud erken.

“Ek wens dat dit nie gebeur het nie, maar ek het belowe om hulle te beskerm.”

Carrillo se ma het die aand van 10 April op die drie kinders se liggame in Carrillo se huis afgekom. Carrillo het toe reeds na die San Joaquin-vallei gevlug, maar die polisie het haar kort hierna in Tulare County vasgetrek nadat sy na bewering probeer het om ʼn motor in Kern County te kaap.

Denton het intussen die bewerings van betrokkenheid by mensehandel ontken. Hy het glo verlede maand tydens ʼn stryd om toesig van sy kinders te kry, in die hof gesê hy is bekommerd oor sy kinders se fisieke en emosionele welsyn, aangesien Carrillo aan depressie ly, berig The Los Angeles Times.

Carrillo staan tereg op drie aanklagte van moord, het die staatsaanklaer in Los Angeles County gesê. Daarby kom ook aanklagte van motorkaping, diefstal en poging tot motorkaping van ʼn tweede voertuig. Sy het intussen onskuldig gepleit op die aanklag van motorkaping en sal na verwagting weer op 7 Mei in die hof verskyn.

Sy word tans in die Kern County-gevangenis in Kalifornië aangehou. Borgtog van $2 miljoen (byna R29 miljoen) is wel aan haar toegestaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Danie

Een siek ma as jy my vra.

JM

Hoe doen ‘n ma soiets? Dit gaan my verstand te bowe.

Gert

Dit breek my hart!

Elize

Dit klink eerder asof sy psigoties is nevermind depressie

Tino

Genugtig!