Ma verdwyn onverklaarbaar spoorloos

Nicola Bulley (Foto: Lancashire-polisie/Facebook)

Die polisie in Engeland het opnuut ʼn versoek gerig vir inligting oor ʼn ma wat twee weke raaiselagtig verdwyn het.

Soekspanne, insluitend duikers, deursoek die Wyrerivier vir Nicola Bulley (45), ʼn ma van twee, naby aan die gebied waar die rivier in die Ierse see in noordwestelike Engeland uitmond.

Bulley is laas op 27 Januarie opgemerk toe sy langs die rivier gestap het. Sy het kort tevore haar twee dogters, ses en nege jaar oud, by die skool afgelaai.

Haar selfoon is op ʼn bankie aangetref, steeds inskakel op ʼn konferensie-oproep met die werk, en haar hond het los rondgehardloop.

Vriende het intussen in die dorpie bymekaar gekom waar sy laas gesien is en plakkate versprei oor die vermiste huisverbandraadgewer. Die boodskap op die plakkate lui “Bring Nikki home”.

“Ons wil Nikki by die huis hê vir haar twee pragtige jong meisies wat hul mamma nodig het,” het vriendin Emma White aan die BBC gesê.

Duikers van ʼn privaat maatskappy wat vroeër vandeesweek die rivier met hoë-tegnologie sonar deursoek het, bevraagteken die polisie se teorie dat Bulley in die water geval en verdrink het toe sy met haar hond gaan stap het.

Forensiese kenner Peter Faulding, uitvoerende hoof van Specialist Group International, sê die toerusting wat sy maatskappy gebruik kan “elke klip en stok sien wat op die rivierbodem lê”.

Hy sê die plek in die rivier, waar Bulley vermoedelik ingeval het, “beweeg nie vinnig nie” en sy soektogte het in die verlede gewoonlik binne ʼn paar uur resultate opgelewer.

Ná ʼn mislukte soektog om enige teken van Bulley te vind, het Faulding haar verdwyning as “ʼn algehele raaisel” beskryf.

Die soektog na Nicola Bulley (Foto: Lancashire-polisie/Facebook)

Bulley se verdwyning het haar familie radeloos, sê White. “Dit is ʼn tuimeltrein. Dit is byna soos ʼn marteling – die wanhoop, die ondenkbare frustrasie … ons het iets nodig, enigiets, ʼn stukkie inligting wat ons in ʼn ander rigting kan stuur,” het sy bygevoeg.

Die polisie het egter vuilspel as ʼn moontlikheid uitgeskakel en hou vol dit bly ʼn ondersoek vir ʼn vermiste persoon.

“Ons hipotese bly dat Nicola ongelukkig in die rivier geval het. Daar is nie enige derde party of kriminele element betrokke nie. Ons vermoed nie vuilspel nie, dit is ʼn tragiese geval van ʼn vermiste persoon,” het superintendent Sally Riley vroeër gesê.

Lancashire-polisie het Vrydagaand ontken dat die soektog afgeskaal word. “Dit is moontlik dat mense minder polisie-aktiwiteit sien as tevore, maar dit is nie omdat ons die soektogte afgeskaal het nie,” lui ʼn verklaring. “Dit is bloot omdat die fokus van ons soektog verder stroomaf gelei het.”

Lancashire-polisie sê alle moontlike leidrade word steeds opgevolg en dit sluit in om kringtelevisie- en paneelbordbeeldmateriaal na te gaan en met mense te praat wat moontlik inligting kan verskaf.

“Ons prioriteit bly om Nicola op te spoor en antwoorde vir haar familie te gee.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

PersHeks ·

Ek hoop regtig hulle kry haar!! My hart gaan uit vir haar familie!

Lillian ·

My gevoel is dat sy aangeval is terwyl sy daar gesit het.

E ·

Ek kan nie verstaan hoekom polisie nie eerste selfoon toring se inligting trek nie. Kriminele het altyd hulle fone by hulle of vergeet hulle het fone. Daar is deesdae baie data wat getrek kan word om te bepaal wie in ‘n omgewing was en waarom, Kyk die moordenaar van die IDAHO 4. Hy is slegs met tegnologie opgespoor.

Corne ·

As haar selfoon op die bankie le, dan klink dit meer na ‘n ontvoering, want almal se selfone is by jou. As sy wel verdrink het sal hulle die selfoon op haar kry. Ek weet nie, hier is weer ‘n slang in die gras . Sterkte aan familie en vriende. Vir die 2 dogtertjiese se onthalwe hoop en bid ek sy is veilig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.