Ma vervolg ná kind (6) onnie skiet

Die owerhede ná die skietery by die Richneck Elementary School in die VSA. (Foto: Facebook / Dan Kennedy)

Die ma van die sesjarige Amerikaanse seun wat sy onderwyseres vroeër vanjaar geskiet het, word nou strafregtelik aangekla.

Deja Taylor word van kinderverwaarlosing aangekla sowel as die versuim om ’n gelaaide vuurwapen veilig buite die bereik van ’n kind te berg.

James Ellenson, Taylor se prokureur, het aan AFP gesê sy kliënt “sal haarself later vandeesweek aan die polisie oorgee”.

Howard Gwynn, hoofaanklaer in die saak, sê die ondersoek is nog aan die gang. Gwynn beplan om die aanstelling van ’n spesiale jurie te versoek om die skool se veiligheid te hersien.

Indien die spesiale jurie eindelik bepaal dat nóg persone verantwoordelik gehou behoort te word, kan nog bykomende aanklagte aanhangig gemaak word, het Gwynn verduidelik.

Die sesjarige kind is tot op hede nie strafregtelik aangekla nie.

Dié jong seun het op 6 Januarie vanjaar ’n pistool, wat sy ma wettiglik in die Amerikaanse deelstaat Virginië gekoop het, uit sy skooltas by die Richneck Elementary School gehaal en sy onderwyseres Abigail Zwerner geskiet.

Zwerner (25) het tydens die skietery wonde aan haar hand en bors opgedoen en moes twee weke lank in die hospitaal aansterk.

Die seun se familie het kort ná die voorval in ’n verklaring gesê hy “ly aan ’n akute gestremdheid,” en dat die vuurwapen waarmee Zwerner geskiet is, by die seun se huis “beveilig” was.

Maroela Media het vroeër vandeesmaand berig die onderwyseres dagvaar egter nou die skool vir $40 miljoen (sowat R716 miljoen).

Zwerner voer aan dat die skool se administrateurs bewus was van die leerder se “geskiedenis van willekeurige geweld”.

Zwerner voer ook in die dagvaarding aan dat die skoolraad die betrokke dag versuim het om proaktief op te tree nadat onderwysers besef het dat die leerder ’n vuurwapen in sy besit het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

MJLS ·

Sterkte aan die onnie.
Na my mening word kinders al van kleins af té.veel aan geweld op TV, selfs sommige ‘kinderprogramme’ op TV.en films blootgestel.
Hier in SA.werk die sensuur op bogenoemde ook nie meer soos vroeër jare nie.

Lillian ·

Skokkend! En nou dink hulle verskonings uit vir die laaitie se gedrag!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.