Ma waarsku ná driejarige ‘verlam’ raak

Klein Evelyn (Foto: Skermskoot uit die video)

ʼn Egpaar van die Amerikaanse deelstaat Oregon het vroeër vandeesmaand die skrik van hul lewe gekry toe hul driejarige dogtertjie tydelik verlam geraak het ná sy deur ʼn bosluis gebyt is.

ʼn Video wat Amanda Lewis, die dogtertjie se ma, op Facebook gedeel het waar duidelike tekens van verlamming by Evelyn gesien kan word, het soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei.

Lewis sê Evelyn het die aand voor sy die tekens van verlamming getoon het, “vreemd” begin optree.

“Sy wou byvoorbeeld nie uit die bad uit opstaan en haar slaapklere aantrek nie. Sy was bietjie moeilik, so ek het saam met haar in die bed geslaap. Die volgende oggend kon sy byna nie op haar bene staan nie. Sy kon ook nie loop of kruip nie, en ook nie haar arms gebruik nie. Ons het ʼn video daarvan geneem om aan familie te stuur om by hulle te hoor of hulle dalk weet wat die oorsaak kan wees,” het Lewis op Facebook geskryf.

Evelyn is kort daarna na die hospitaal gehaas. “Die dokter het gesê dat hy al sowat sewe of agt kinders met dieselfde simptome gesien het oor die afgelope paar jaar, en dat sy waarskynlik deur ʼn bosluis gebyt is. Hulle het haar ondersoek, en ʼn bosluis in haar hare gekry.”

Dié verlamming staan as “bosluisverlamming” bekend. Die verlamming word veroorsaak deur die sogenaamde neurotoksien-stof wat in die bosluis se speeksel geproduseer word. Ná ʼn ruk vergiftig die bosluis die slagoffer met toksiene. Die toksiene laat eers die bene lam voor die slagoffer heeltemal verlam raak. Dit is meer algemeen onder diere en daarna onder kinders.

Lewis het in haar Facebook-inskrywings ander ma’s teen dié simptome gewaarsku.

“Ek voel aaklig dat ek nie vroeër die bosluis opgemerk het nie, maar ek sou nooit gedink het om vir iets soos ʼn bosluis te soek nie. Ek is bly ons het haar hospitaal toe gevat en dat ons die bosluis opgespoor het voor dit te laat was. As jou kinders vreemd begin optree, veral as daar tekens van verlamming is, soek deeglik vir iets soos bosluise.”

Evelyn is intussen uit die hospitaal ontslaan, “haar ou self” en het ook weer die volle gebruik van haar ledemate.

https://www.facebook.com/amanda.lewis.12764/videos/10213065382413051/

Kyk die video ook hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Pieterlewismuts ·

Bosluiskoors kan DODELIK wees vir honde en katte. Maybe ook vir kinders en volwassenes
Het al verskeie van my troeteldiere gelukkig betyds na vee arts geneem vir behandeling

Landi ·

Ek is bly die dogtertjie is ok, maar jammer ek dink nie ek sal nog eers ‘n video op neem nie. Ek sou haar dadelik by ‘n hospitaal probeer uit kry het.

Valerie ·

“Soos ‘n veldbrand op sosiale media versprei.” Ek twyfel. Nerens iets daarvan gehoor of gesien nie. Sosiale media is maar net ‘n ander vorm van die onbetroubare en sensasie-soekende Wikipedia. Hou verby, thanks. Sosiale media beheer nie die wêreld nie. In die geval, soos met duisende ander, het “sosiale media” geen rol gespeel nie. Dit is ‘n fantasie wêreldjie…amper soos “online dating.”

Ella ·

Bosluiskoors is soms dodelik vir mens en dier. Sommige mense word te laat behandel, veral op die platteland, waar boere en werkers dikwels gebyt word…beeskrale, veeveilings, ens. Hulle kan egter orals voorkom. Wees dus paraat!

Beth ·

Die video het hier in Amerika orals versprei. Ek het dit al n paar keer gesien.

Zia ·

ek self het as kind Borsluiskoors gehad 20jaar trug het geen dokter geweet wat is fout met my nie vandag te hulle dit so gou op, was vir 2weke in die hospitaal gewees weens dit, die ergste is as hul jou koos moet breek daai ys bad wou ek net mooi niks van weet nie (dankie aanmy mamma wat saam my ingeklim het)

eks bly sy is oky maar ouers moet regtig meer oplet in hoe hul kinders is, as jy gewoond is jou kind is aktief en aaltyd besig en ewe skierlik slaap jou kind 99% van die dag dan moet jy as ouer weet dat daar fout is,

madels ·

Oee, dis verskriklik vir n ouer om skielik te sien jou kind toon verlamming in liggaam. Ek is net so verlig en bly vir die ouers dat die dogtertjie ok is. Dis eintlik goed om te weet wat kan gebeur van n bosluis byt. Dankie dat julle die artikel geplaas het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.