Maatskappy moet opdok ná tragedie by pretpark

Die Dreamworld-pretpark in Queensland, Australië. (Foto: Australian Broadcasting Corporation via AP)

Die eienaars van die Dreamworld-pretpark in Queensland in Australië is Maandag ʼn boete van 3,6 miljoen Australiese dollar opgelê nadat vier mense in Oktober 2016 gedurende ʼn ongeluk op ʼn rit by die pretpark dood is.

Cindy Low, Kate Goodchild, Luke Dorsett en Roozi Araghi is destyds dood toe die Thunder River Rapids-pretrit weens ʼn tegniese fout onklaar geraak het.

Die oorledenes is destyds gevolglik in die tuig vasgekeer terwyl Low se 10-jarige seun en Goodchild se 12-jarige dogter van die rit afgeslinger is. Albei kinders het die ongeluk oorleef.

Die Dreamworld-pretpark in Queensland, Australië. (Foto: Australian Broadcasting Corporation via AP)

Queensland se departement van gesondheid en veiligheid by die werkplek het die maatskappy Ardent Leisure ná die voorval van die versuim om veilige toerusting te onderhou aangekla, asook die versuim om voldoende toesig te hou en personeel behoorlik op te lei om mense teen risiko’s te beskerm.

Ardent Leisure het in Julie skuld beken op al drie aanklagte.

Aaron Guilfoyle, aanklaer vir die departement, het aan die hof gesê hoewel ʼn fout met die rit se pomp die direkte oorsaak van die ongeluk was, was daar ʼn aantal mislukkings wat eindelik tot die tragedie gelei het.

Nooddienswerkers by die Thunder River Rapids-rit in die Dreamworld-pretpark in Queensland, Australië. (Foto: Dan Peled/AAP via AP)

Ardent Leisure besit en bedryf twee pretparke aan die Goue Kus van Australië waaronder Dreamworld en Whitewater World.

Die familielede van die slagoffers wat in die voorval omgekom het, doen afsonderlike regstappe teen Dreamworld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Andrew ·

Ek vra al jare, wie in SA is verantwoordelik vir die ondersoek en reguleering van pret rutte? Van daai merry go rounds by skoue is al oor die 40 jaar oud?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.