Maatskappy skuldig bevind oor selfmoorde

Voormalige uitvoerende hoof van France Telecom, Didier Lombard, kom by die hof in Parys aan (20 Desember 2019) (Foto: AP Photo/Michel Euler)

Orange, een van Frankryk se grootste telefoon- en internetverskaffers, is Vrydag skuldig bevind aan ʼn reeks selfmoorde onder voormalige werknemers. Die uitvoerende hoof van Orange is tronkstraf opgelê.

Orange is beveel om ongeveer €3,5 miljoen (byna R55,5 miljoen) in boetes en skadevergoeding te betaal aan talle families, werknemers oor selfmoorde en ander probleme in die 2000’s toe die maatskappy duisende poste besnoei het.

Vriende en familie van persone wat hul eie lewens geneem het, was baie emosioneel tydens die uitspraak. Daar was verligting, maar ook opnuut rou oor hul verlies.

Orange, wat in daardie stadium as France Telecom bekend gestaan het, is Frankryk se grootste maatskappy wat in ʼn hof gedaag is op aanklag van geïnstitusionaliseerde “kollektiewe morele teistering”. Dié uitspraak baan die weg vir ander maatskappye om op soortgelyke aanklagte in die hof gedaag te word.

“Dit is ʼn uitspraak vir die toekoms,” het die vakbond CGT gesê. “Dit is die werkers wat ʼn maatskappy maak, wat die hart van die werk is.”

Frankryk is een van slegs ʼn handjievol lande in die wêreld waar dit moontlik is om maatskappye of personeellede vir dié tipe misbruik te vervolg.

Didier Lombard, voormalige uitvoerende hoof van die maatskappy, is skuldig bevind en tot vier maande tronkstraf gevonnis. Hy moet €15 000 (sowat R237 000) in boetes betaal. Ses ander bestuurders is ook kort vonnisse opgelê en duisende euro in boetes.

Al die beskuldigdes, buiten die maatskappy, is van plan om appèl aan te teken. Hulle ontken aanspreeklikheid vir die selfmoord van persone wat hulle nie ken nie.

Die hof het egter bevind hulle en die maatskappy is skuldig aan kollektiewe morele teistering. “Die metodes wat gebruik is om 22 000 poste te besnoei, was onwettig,” lui die uitspraak.

Dit is moeilik vir maatskappye in Frankryk om grootskaalse afleggings te doen, weens die land se werkersbeskerming. France Telecom-bestuurders het dus personeel se posvlakke verlaag of hulle teen hul wil na ander persele verskuif.

Orange se prokureurs voer aan die afleggings was nodig as deel van die privatisering van die staatsbeheerde France Telecom.

Orange is nog steeds Frankryk se grootste telefoonmaatskappy en het bedrywighede in 26 lande in Europa, die Midde-Ooste en Afrika. Die aandeleprys het nie enige beduidende verandering getoon ná die uitspraak nie.

Lombard, sy voormalige regterhandman Louis-Pierre Wenes, en die direkteur van menslike hulpbronne Olivier Barberot, is skuldig bevind dat hulle ʼn “beleid van destabilisasie” gelei het toe hulle duisende poste wou besnoei. Vier ander bestuurders is skuldig bevind vir hul betrokkenheid.

Talle werknemers het hul eie lewens geneem tydens die herstrukturering. Die hofsaak het op 39 sake gefokus tussen 2006 en 2009: 19 selfmoorde, 12 selfmoordpogings en agt sake van ernstige depressie. Ander selfmoordgevalle onder werknemers kon nie direk met hul werk verbind word nie.

Sebastian Crozier, ʼn werknemer van Orange, was ook baie emosioneel ná die uitspraak.

“Ons onthou hulle,” het Crozier, ʼn lid van die CFE-CGC-vakbond, gesê. “Ek het gesien hoe een van my kollegas sterf. Sy het uit ʼn venster op die vyfde verdieping gespring.”

Die hof het twee en ʼn half maande lank geluister na die families van die slagoffers en foto’s en briewe is in die hof vertoon. “Ek neem my eie lewe weens my werk by France Telecom. Dit is die enigste rede,” lui een van die briewe.

Wenes het op die laaste dag van die hofsaak in Julie gesê hy is “innig jammer” vir “diegene vir wie hul werk die bron was van ongerief en lyding”. “Ons wou dit nooit hê nie.”

Lombard, nou 77 jaar oud, het in die hof erken hy het in 2006 “ʼn fout gemaak” toe hy gesê het werknemers moet die maatskappy verlaat “deur die deur of deur die venster”. Hy het ook erken hy het in ʼn stadium gesê “daar was ʼn mode van selfmoord in die bedryf”. Lombard het sy amp in 2010 verlaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.