Maar sy volgende en taaiste verkiesingstryd begin reeds vanaand – of liewer, van sy opponente soos Marine le Pen, begin vanaand reeds met hul veldtogte vir die parlementêre verkiesing wat in Junie plaasvind.
Macron moet dus in ’n ongelooflike kort tydjie sy party tot ’n meerderheidsparty probeer omtower, sodat hy ’n eerste minister uit sy eie geledere kan aanstel. Sy eie party, En Marche!, is eers November verlede jaar gestig. Dit word as ’n onverbonde, sentristiese beweging beskou nadat Macron nog tot onlangs sy eie politieke paadjie in die Sosialisteparty geloop het, en ook daar onder andere as minister van finansies gedien het.
Word Macron verplig om ’n eerste minister van ’n ander party wat die meerderheid behaal het aan te stel, kan die nuwe kabinet omskep word in wat as “cohabitation” bekend staan, en waardeur hy kwalik ’n enkele van sy voorgestelde programme kan voer. In hierdie stadium lyk dit of Macron min gunsies van ander partye kan verwag om sy party kans te gee om nes te skop, en veral om ’n meerderheid te verkry.
Ontleders wys juis daarop dat die uiterlike van die verkiesingsuitslae Macron vlei omdat baie mense, veral aan die linkerkant van die spektrum, jong mense en werkloses weggebly het van die stembus. Na raming het sowat ’n kwart van die kiesers nie hul kruisies gaan trek nie. ’n Groot deel van die stemme wat hy getrek het, is waarskynlik ook van kiesers wat ’n weersin in sy opponent, Marine le Pen, het, maar wat net vir Macron kon stem omdat hulle al kandidate in die finale ronde was.
Macron se oorwinningstoespraak het ook geen sweempie van triomfantlikheid bevat nie. Hy weet duidelik ’n groot taak lê nou vir hom voor, en dat ’n eenmalige verkiesingswonder nie genoeg was nie.