Madagaskar hou asem op vir sikloon Batsirai

Sikloon Batsirai, wat die ooste van Madagskar na verwagting Saterdag sal tref, hou ʼn “baie ernstige bedreiging” in vir miljoene mense, met stormsterk wind en stormreën wat die eiland sal hamer.

Inwoners het skuiling gesoek voor die storm se aankoms en wind van meer as 200 km/h word voorspel, terwyl die land steeds probeer herstel van tropiese sikloon Ana wat die land laat verlede maand getref het.

Nadat dit twee dae lank swaar reën in Mauritius en die Franse eiland Reunion veroorsaak het, was Batsirai vroeg Saterdagoggend sowat 250 km oos van Madagaskar.

Batsirai behoort die eiland teen laatmiddag of vroegaand as ʼn intense tropiese sikloon te tref en “hou ʼn groot gevaar vir die streek in”, het die Meteo-France-weerdiens gesê.

Die oog van die storm sal die middel van die eiland na verwagting oornag tref, voor dit teen Maandag na die westelike kus sal wyk.

Windsnelhede van tussen 200 km/h en selfs 250 km/h word verwag waar die sikloon aan land gaan. Golwe kan tot 15 m hoog wees.

Die Verenigde Nasies (VN) het reeds met voorbereiding begin en noodlenigingsagentskappe en reddingsvliegtuie is op ʼn gereedheidsgrondslag geplaas. Humanitêre hulp word ook ontbied.

Die uitwerking van Batsirai sal na verwagting “beduidend” wees, sê Jens Laerke, woordvoerder van die VN.

Minstens 131 000 mense is geraak nadat Ana Madagaskar in Januarie getref het. Minstens 58 mense is dood, hoofsaaklik in die hoofstad Antananarivo. Die storm het Malawi, Mosambiek en Zimbabwe ook getref en talle sterftes veroorsaak.

Die VN se Wêreldvoedselprogram (WFP) verwag dat sowat 595 000 mense regstreeks deur Batsirai geraak kan word, terwyl nog 150 000 ontwortel kan word weens grondverskuiwings en oorstromings.

“Ons is senuweeagtig,” sê Pasqualina Di Sirio, hoof van die WFP in Madagaskar.

Soek-en-reddingspanne op die eiland is op ʼn hoë gereedheidsgrondslag geplaas en inwoners het hul huise probeer versterk.

Die storm hou op die een of ander manier ʼn gevaar vir minstens 4,4 miljoen mense in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.