Madagaskar-sikloon: Dodetal styg skerp

Stormskade in Tamatave. Foto: Xinhua/Yan Feng

Die dodetal weens die tropiese sikloon Ava wat Madagaskar sowat twee weke gelede getref het, het intussen na 51 gestyg. Altesaam 22 mense word steeds vermis.

Owerhede in Madagaskar het sowat ʼn week gelede gesê minstens 29 mense is dood, talle beseer en meer as 13 000 dakloos gelaat.

Die nasionale rampbestuurkantoor het Sondag in ʼn verklaring gesê meer as 54 000 mense is intussen deur Ava dakloos gelaat.

Ava het die oostelike gedeeltes van Madagaskar, die eiland noordoos van Suid-Afrika, op 5 en 6 Januarie met hewige reën en ʼn windspoed van tussen 140 km/h en 190 km/h getref.

Agt van die oorledenes is almal van dieselfde familie. Hulle het saam vir ʼn begrafnis byeengekom toe ʼn modderstorting die huis waarin hulle was in die administratiewe streek van Haute Matsiatra, 400 km suid van die hoofstad Antananarivo, verwoes het.

In Maart verlede jaar het sikloon Enawo die eiland getref en minstens 78 mense se lewens geëis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.