Madelein McCann-ondersoek: Erf in Duitsland opgegrawe  

(Foto: AP Photo/Martin Meissner)

Die Duitse polisie het Woensdag met opgrawings en ander ondersoekwerk voortgegaan op ʼn stuk grond aan die buitewyke van Hannover as deel van hul ondersoek na die verdwyning van Madeleine McCann.

Die driejarige Madeleine het in 2007 in Portugal verdwyn.

Polisiebeamptes het vir ʼn derde agtereenvolgende dag masjiengrawe, snuffelhonde, grawe en harke ingespan in hul soektog. Twee tente is ook op die erf opgerig en daar is dieper gegrawe nadat bome en bosse vroeër die week verwyder is.

(Foto: AP Photo/Martin Meissner)

Dit is nie bekend gemaak na wat presies daar gesoek word nie. ʼn Woordvoerder van die aanklaerskantoor in Braunschweig het net bevestig dat dit verband hou met die ondersoek na Madeleine se verdwyning.

Ondersoekers het ʼn deel van ʼn fondasie opgegrawe tydens hul soektog. ʼn Man op ʼn naburige perseel het aan die media gesê dat daar al vir die afgelope twee jaar niemand op die erf woon nie.

Die owerhede in Portugal het ook vroeër vandeesmaand met soektogte begin om Madeleine se liggaam te probeer opspoor. Die soektogte in onder meer putte aan die Algarve-kusstreek het egter nog niks opgelewer nie.

(Foto: AP Photo/Martin Meissner)

Dít nadat Madeleine se ouers, Kate en Gerry, skriftelik deur Duitse aanklaers ingelig is dat daar bewyse is dat Madeleine dood is.

Die verdagte in die saak van Madeleine se verdwyning, Christian Brückner (43), het vroeër in Braunschweig, sowat 70 km van Hannover, gewoon. Hy is voorheen skuldig bevind aan seksuele misdrywe teenoor kinders en dien tans tronkstraf in Duitsland uit.

Brückner het jare lank in Portugal gewoon en het ten tyde van Madeleine se verdwyning in die Algarve-streek gewoon.

Madeleine McCann soos sy gelyk het toe sy as driejarige dogtertjie vermis geraak het.

Die McCann-egpaar het die aand van 3 Mei 2007 vir Madeleine en haar jonger broer en suster, ʼn tweeling en destyds twee jaar oud, in hul vakansiewoonstel gelaat waar hulle gelê en slaap het.

Die ouerpaar het saam met vriende by ʼn restaurant sowat 55 m van die woonstel af gaan eet, maar kort-kort deur die loop van die aand om die beurt na die woonstel teruggegaan om te kyk of die kinders veilig is. Omstreeks 22:00 het Kate weer gaan kyk en toe vasgestel dat Madeleine uit haar bed verdwyn het. Sy is nooit weer gesien nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Plaaskind ·

Die storie bly raaiselagtig. Hoop hulle vind haar oorskot sodat almal berusting kan vind.

Elmarie ·

Na al die jare dink ek steeds die ouers was nalatig om hulle 3 klein kindertjies alleen in die woonstel te los

antieke antie ·

dis my siening ook….mens los nie kleinkindertjies sonder direkte toesig nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.