Madeleine McCann: 90% van saak glo opgelos

Madeleine McCann soos sy gelyk het toe sy as driejarige dogtertjie vermis geraak het. (Foto: http://findmadeleine.com)

Die Duitse polisie het glo reeds 90% van die Madeleine McCann-saak opgelos en is blykbaar seker van hul saak dat die verdagte in die kleuter se verdwyning, Christian Brückner, wel verantwoordelik was vir haar moord.

Só het Dieter Fehlinger, die pa van Brückner (43) se voormalige vriendin, Nicole Fehlinger, onlangs aan verslaggewers gesê nadat hy glo met die polisie gepraat het, berig The Daily Mail.

Brückner én die Fehlingers is Duitsers.

The New York Post berig Nicole is onlangs deur die owerhede ondervra oor haar betrokkenheid by Brückner. Sy word daarvan verdink dat sy ’n medepligtige was in sommige van Brückner se misdade waaronder ’n string rooftogte in die suide van Portugal in 2007.

Hoewel sy nie in dié stadium van Madeleine se verdwyning verdink word nie, het Brückner haar glo die aand van die verdwyning gebel, berig die Portugese uitsaaier RTP.

Dieter hou egter vol dat sy dogter nie betrokke was by die verdwyning nie.

Maroela Media het vroeër berig die owerhede in Portugal het vroeër vandeesmaand met soektogte begin om Madeleine se liggaam te probeer opspoor. Die soektogte in onder meer putte aan die Algarve-kusstreek het egter nog niks opgelewer nie.

Dít nadat Madeleine se ouers, Kate en Gerry, skriftelik deur Duitse aanklaers ingelig is dat daar bewyse is dat Madeleine dood is.

Die McCann-egpaar het die aand van 3 Mei 2007 vir Madeleine en haar jonger broer en suster, ’n tweeling en destyds twee jaar oud, in hul vakansiewoonstel gelos waar hulle geslaap het.

Die ouerpaar het saam met vriende by ’n restaurant sowat 55 m van die woonstel af gaan eet, maar kort-kort deur die loop van die aand om die beurt na die woonstel teruggegaan om te kyk of die kinders veilig is. Omstreeks 22:00 het Kate weer gaan kyk en toe vasgestel dat Madeleine uit haar bed verdwyn het. Sy is nooit weer gesien nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Cabytheron ·

Ek hoop dat die saak nou opgelos word! Die arme ouers moet berusting kry en vrede sluit met hul verlies. So tragies!

Rose ·

Goncalo Amaral stik seker nou in sy koffie. Mag sy gewete hom bloots ry. Nie alleen het hy die saak van die begin af opgemors nie, maar die vermetelheid om Madeleine se ouers te beskuldig van haar moord, en geld te maak uit sy boek daaroor.

popsa ·

Ai, klein Maddie… Kleingoed is hier nie meer veilig nie. Maar as al dié dinge waar is, is sy sekerlik vir ewig veilig en gelukkig in haar Hemelhuis. Dis te swaar vir enige ouerhart. Mag haar ouers alle genade ontvang en deur Hom gedra word.

Melanie ·

Dit is vreeslik hartseer en ek kry die ouers vreeslik jammer… mens sal nooit so iets regtig heeltemal verwerk nie… Ek as ouer sal nie my kinders alleen kan los om saam vriende te gaan eet al is dit net 10m van my huis af nie.

Josh ·

Ek verstaan nie.. Gaan haal vir Christian Brückner uit die tronk, vat hom terug Portugal toe en MAAK hom die plek uitwys.. so maklik soos dit!

Niklaas ·

Daar is sekerlik maniere om hierdie verdagte te dwing om alles uit te blaker. So ‘n pragkind en ek het soveel simpatie met enige ouer in sulke omstandighede , nie net Maddie se ouers nie. Mag die waarheid uitkom en geregtigheid seëvier !

'n Simpelman ·

Dis hartseer. Maar onnodig as haar ouers hul plig gedien het.

Saak sal nooit afgehandel wees totdat haar ouer verantwoordelik en gevonnis word nie.
Growwe nalatigheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.