‘Madeleine McCann is dood’ sê aanklaers aan ouers

Madeleine se ouers, Kate en Gerry McCann. (Foto: Joe Giddens/Pool via AP)

Duitse aanklaers hou vol hulle het ’n brief aan Madeleine McCann se ouers gestuur waarin hulle bevestig dat sy dood is.

Hans Christian Wolters, die staatsaanklaer in Braunschweig, Duitsland, het Maandag gesê die owerhede het definitief die brief aan Madeleine se ouers gestuur om hulle van haar dood in te lig. “Ek kan nie sê of die brief die familie bereik het of steeds onderweg is nie,” het Wolters aan The Sun gesê.

Kate en Gerry McCann, Madeleine se ouers, voer egter aan hulle het geen brief van dié aard ontvang nie.

“Berigte dat ons ’n brief van die Duitse owerhede ontvang het waarin beweer word dat daar bewyse is dat Madeleine dood is, is onwaar,” het die McCann-egpaar vandeesweek in ’n verklaring op hulle webtuiste gesê.

Madeleine McCann

Volgens die egpaar het berigte oor die betrokke brief onnodige angs by vriende en familie veroorsaak en hul lewens van vooraf ontwrig. Madeleine (3) het in 2007 spoorloos verdwyn terwyl haar gesin in Portugal vakansie gehou het.

“Ons het konkrete bewyse dat ons verdagte Madeleine vermoor het en dit beteken dat sy dood is,” het Wolters gesê. Hy het ook bevestig dat die Duitse polisie ’n saak van moord ondersoek en nié na ’n vermiste persoon soek nie.

Wolters wou nie bekend maak hoe aanklaers weet dat Madeleine dood is nie, aangesien dit hul ondersoek na die verdagte kan belemmer, het hy verduidelik.

Maroela Media het vroeër vandeesmaand berig Britse en Duitse polisie het bekend gemaak dat Christian Brückner (43) nou van Madeleine se verdwyning verdink word. Brückner is voorheen skuldig bevind aan seksuele misdrywe teenoor kinders en dien tans tronkstraf in Duitsland uit vir die verkragting van ʼn 72-jarige Amerikaanse vrou in 2005.

Bronne: ANA, Daily Mail, The Sun

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Wilhelm ·

Het hierdie staatsaanklaers al gehoor van email of ‘n telefoon ? Hoe kan jy iets so belangrik met die media bespreek voor dit met die ouers bespreek is.

Hekwag ·

Vir iets so belangriks kon hulle gerus maar op ‘n vliegtuig geklim het en dit persoonlik aan die ouers gaan oordra het. En hier dog ek dis net in Suid Afrika waar mense so eenvoudig kan wees!

ES ·

Vreeslik hartseer. En vir baie jare het mense haar ouers verdink van haar verdwyning. Nou kan hul finaal berusting vind. Hierdie familie is deur soveel smart.

marius ·

n Brief ? Is daar nie protokol dat die ambassade in kennis gestel word dat dit persoonlik aan die mense oorgedra kan word nie ? Jy moet in die nuus lees dat jou kind dood is , en dan hoor daar is nie getuienis nie ?

LD ·

Die posduif het seker Covid-19 gekry oppad na die ouers toe. Ekt gedink hulle sal dalk die nuus persoonlik oordra aan die ouers……? Dis darem maar verskriklik om dit in ñ brief te wil doen!

Withaai ·

As julle Duitse Regs Administrasie ken sal julle weet hoekom hulle dit per Amptelike Brief down. Die brief is seer sekerlik per amptelike kanale aan die Britse Justusie Departement gestuur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.