Madeleine McCann: Ouers bly hoop

Kate and Gerry McCann Foto: Joe Giddens/Pool via AP

Die ouers van die vermiste Madeleine McCann, die driejarige wat in 2007 tydens ʼn gesinsvakansie in Portugal verdwyn het, het tydens die 10 jaar-herdenking van haar verdwyning gesê hulle bly vol hoop dat hulle een dag weer met hul dogter herenig sal word.

Die McCanns het in ʼn onderhoud met Britse media, wat Sondag gepubliseer is, gesê hulle voel bemoedig deur die “ware vordering” wat die Britse polisie die afgelope vyf jaar in die saak gemaak het.

Scotland Yard het verlede week gesê speurders volg steeds “kritieke leidrade” op om Madeleine op te spoor. Sy het die aand van 3 Mei 2007 uit die gesin se vakansiehuis in Algarve verdwyn. Haar ouers het by ʼn nabygeleë restaurant gaan eet nadat hulle Madeleine en hul tweeling in die bed gesit het.

Die polisie het gesê ondanks ʼn ondersoek, wat tot dusver al meer as £11 miljoen (R190 miljoen) beloop, gesê daar is geen “definitiewe bewyse” of Madeleine, wat nou byna 14 jaar oud is, nog steeds lewe of reeds dood is nie. Die meisie is uit die woonstel ontvoer, maar hoe en waarom dit gebeur het, bly ʼn raaisel.

Een teorie is dat dit moontlik ʼn rooftog is wat skeefgeloop het.

Gerry McCann (48) het gesê dit is “vreeslik” dat sy nog nie gevind is nie en het bygevoeg: “Geen ouer sal ooit ophou soek nie, tensy mens definitief weet jou kind is dood nie. En ons het net nie die bewyse daarvoor nie.”

Sy vrou, Kate, stem saam. “My hoop dat Madeleine nog leef het ná 10 jaar nog nie vervaag nie. Ek het nooit gedink ons sal na soveel jaar nog in hierdie situasie wees nie. Dis ʼn lang tyd.”

Madeleine McCann

Die saak het wêreldwyd belangstelling geprikkel weens die McCanns se veldtog om hul saak so wyd as moontlik te publiseer om Madeleine op te spoor. Die egpaar het gesê hulle beplan ook om ʼn uitspraak te daag nadat ʼn hof ʼn speurder van Portugal vrygespreek het op aanklag dat hy lasterwette oortree het toe hy in ʼn boek aangevoer het hulle was betrokke by Madeleine se verdwyning.

Op die vraag hoe dit met die gesin gaan, het die McCanns gesê, net soos ander gesinne wat tragedies beleef het, probeer hulle aanbeweeg en om op hul 12-jarige tweeling te fokus.

“Jy pas aan en kry ʼn nuwe tipe normaal,” het Gerry gesê. “In ʼn stadium moet jy aanvaar dat die tyd nie stilstaan nie.”

Hy het gesê Kate koop jaarliks nog steeds verjaarsdag- en Kersgeskenke vir Madeleine.

“Ek moet natuurlik dink hoe oud sy nou is en koop dan iets wat, wanneer ons haar kry, nog steeds behoorlik sal wees. Ek dink baie daaroor,” het Kate verduidelik. “Sy is nog steeds ons dogter. Sy sal altyd ons dogter bly.”

Lees alle vorige berigte oor Madeleine McCann op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johann ·

Bly bitter vreemd? Ergste is: wanneer laat jy gaan en probeer vrede maak? Indien ooit? En ek vra dit as n pappa…

Cherokee ·

Nooit… sê ek as ‘n pappa. Moet nooit ooit hul hoop wegneem nie. Dink oor wat ek sê.

Justice ·

Ek dink dat geen ouer ooit oor so iets kan kom nie – veral indien jy beslis weet dat jou pragtige kind ontvoer is en moontlik erens in ongelukkige omstandighede woon. Geld, tyd en moeite is nie hier `n faktor nie. Ek sou in my leeftyd nooit kon laat gaan het indien daar `n moontlikheid is dat sy enigsins kan lewe nie. My hart gaan uit na die ouers.

Andrea ·

Ek stem saam.Mag die Here mense in sulke uiters pynlike omstandighede bystaan. Ek sal nooit kan berus nie. Êrens sal my lieflike kind bly hoop dat ek aanhou soek.

AN ·

Mens kan aan die Ma se gesig sien die geweldige tol wat die kind se verdwyning op hulle gehad het.

SARIE VAN HEERDEN ·

Ek kyk weekliks na ‘n program op televisie: “Long Lost Familes” op kanaal 123, (ITV) waar mense opgespoor word na soms 50 of 60 jaar. Die aanbieders is Davina McDonnald en Nicky Call. Voorverlede week is ‘n verlore familielid in Kaapstad opgespoor. Hulle is in Brittanje gestationeer. Wonder of die McCanns van hul weet?

SARIE VAN HEERDEN ·

KORREKSIE: Die mansaanbieder se naam is Nicky Cambell en dit is baie interessant om Nicky te Google en sy geskiedenis lees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.