Madeleine McCann: Polisie deursoek Portugese reservoir

Een van die laaste foto’s wat van Madelein McCann geneem is voor sy verdwyn het (Foto: Amptelike Find Madeline-webwerf)

Die Portugese polisie sal Dinsdag ʼn afgeleë reservoir in die suide van dié land deursoek as deel van die owerhede se jare lange soektog na die Britse kleuter Madeleine McCann wat 16 jaar gelede tydens ʼn gesinsvakansie in Portugal verdwyn het.

Dié soektog is deur die Duitse polisie aangevra aangesien die hoofverdagte in die saak, Christian Brueckner, dié reservoir gereeld besoek het toe Madeleine in 2007 verdwyn het.

Die Arade-reservoir is byna 50 km van waar Madeleine destyds by die Algarve-toeristeoord Praia da Luz vermis geraak het.

Portugese media berig Brueckner het glo gereeld tyd naby die reservoir buite die dorpie Silves deurgebring.

Dit is egter nie die eerste keer dat die reservoir deursoek word nie. Die polisie het die terrein reeds in 2008 gefynkam, maar duikers het destyds slegs dierereste gevind.

Madeleine het op 3 Mei 2007 uit die gesin se vakansiewoonstel in Praia da Luz verdwyn, net ʼn paar dae voor haar vierde verjaarsdag. Haar ouers het die betrokke aand by ʼn nabygeleë restaurant saam met vriende aandete gaan geniet.

Brueckner het naby die Praia da Luz-oord gewoon toe klein Madeleine verdwyn het.

Hoewel hy in dié stadium as die hoofverdagte in die saak beskou word, is Brueckner, ʼn Duitse burger, tot op hede nie formeel aangekla nie.

Hy dien tans tronkstraf uit in Duitsland vir die verkragting van ʼn 72-jarige vrou. Die vrou is in 2005 verkrag in dieselfde gebied waar Madeleine McCann vermis geraak het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Meisie ·

Hoekom soek ons nie so na elke persoon wat vermis geraak het nie? Gewoonlik teen die tyd het hulle al lank al die saak toe gemaak?

Cherokee ·

Dit is dalk te betwyfel of enige plek in die wêreld sò lank gesoek word na vermistes. Diè spesifieke saak het wêreldnuus geword, en dit is waarskynlik die rede vir die onophoudelike soek.

Hendrik ·

Dis eenvoudig prakties onmoontlik. Die koste en behoefte aan menslike hulpbronne is te hoog, so hartseer as wat dit is. Baie, baie meer moet egter in SA gedoen moet.

trotsNAMSA ·

Die saak word internasionaal waargeneem. Daar is druk op Portugese- en Duitse Polisie. Selfs in SA word die saak deur misdaad skrywers, private speurders en ander dop gehou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.