Madeleine McCann se ouers slagoffers van ‘wrede slenter’

Madeleine McCann

Die ouers van die vermiste Madeleine McCann was vandeesweek die slagoffers van ʼn “wrede slenter” nadat ʼn sogenaamde toekomsvoorspeller op geld aangedring het om inligting oor Madeleine met die gesin te deel. Dié inligting het sy na bewering met behulp van “visioene” gekry.

Clarence Mitchell, Gerry en Kate McCann se woordvoerder, het aan The Daily Mail gesê die toekomsvoorspeller het beweer sy het inligting, wat sy glo uit drie afsonderlike visioene gekry het, oor die plek waar Madeleine haar bevind.

Mitchell het gesê dié slenter “veroorsaak meer onnodige hartseer” vir die gesin.

Die voorspeller het aan Mitchell gesê sy het besluit “om haar visioene tot dusver geheim te hou” aangesien sy nie seker was “dat die visioene as feite geïnterpreteer kan word nie”.

Sy het glo aan die gesin gesê om haar ʼn aanbod te maak vir elkeen van die drie visioene wat sy gehad het.

Die voorspeller het verder in haar skrywe gesê dat sy “geen publisiteit by die saak betrokke wil hê nie” en dat sy juis besluit het om nou met die drome vorendag te kom omdat sy ʼn tekort aan geld het.

“Die e-pos beweer dat sy inligting oor Madeleine het en dat sy geld daarvoor soek. Dit is blatante leuens en moontlik ʼn bedrogspul. Dit veroorsaak onnodige hartseer en ek het die gesin en die polisie in kennis gestel,” het Mitchell gesê. “Enigiemand wat tien jaar gewag het om hierdie sogenaamde drome te openbaar kom baie twyfelagtig voor. Dit is beslis ʼn saak vir die polisie.”

Dit is egter nie die eerste keer dat die McCann-gesin, wat ook ʼn 12-jarige tweeling het, onder ʼn slenter deurloop nie. Talle mense het al vals inligting aan die gesin probeer verkoop om sodoende geld uit die soektog te probeer maak. Die gesin het ook gesê hulle loop al sedert die begin van die soektog onder geweldige kritiek en kuberboelies deur.

Madeleine het enkele weke voor haar vierde verjaardag in 2007 uit die gesin se vakansiehuis in Praia da Luz in Portugal verdwyn. Haar ouers het die aand van 3 Mei 2007 saam met vriende gaan uiteet en Madeleine saam met haar tweelingboeties alleen tuis gelaat. Toe haar ma omstreeks 22:00 na die huis is, was Madeleine weg.

Speurders van Portugal en Engeland soek al amper tien jaar lank, maar tot dusver was daar nog geen duidelike leidrade nie. Meer as $13 miljoen is reeds bestee in die soektog na Madeleine.

Madeleine se ouers het onderneem om nooit op te hou soek na hul dogtertjie nie.

In Julie 2015 is ʼn meisie se oorskot in ʼn tas in Australië gevind en daar is vermoed dit kan moontlik Madeleine McCann se oorskot wees. Dit was egter nie.

Lees alle vorige berigte oor Madeleine McCann op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

jessica ·

Gaan lees maar al die feite mooi. Die hele ondersoek van die polisie dui daarop dat die ouers skuldig is aan die verdwyning van hul dogter. Lees die boek wat die speurder geskryf het – Mr Goncalo Amaral. Haar ouers het nie eers gesoek na haar daai aand nie, hulle was meer bekommerd oor wie soek en watter vrae word gevra. Moenie net een artikel lees nie – daar is duisende maar duisende. Wens mense wil ophou om die McCann’s jammer te kry. Hulle hoort nerens anders as in die tronk nie!!! Ons dink korrupsie is net in ons land.

The official case file released to the public on DVD comprised 11,223 pages of documents in four parts:

http://www.mccannpjfiles.co.uk/

Ag asb ·

Twak. Geen mens of mense sal vir 10 jaar lank na hul dogter soek en so baie doen om haar te probeer vind en in die openbare oog te hou as hulle self skuldig is nie. Hulle het ongelukkig n groot fout gemaak deur die kinders alleen te los, maar hulle is definitief nie verantwoordelik vir haar verdwyning nie. Mense wat daardie aand teenwoordig was, het getuig hoe histeries die ouers was en hoe beide van hulle help soek het tot in die oggendure van die volgende dag.

Michelle ·

Die ouers weet baie goed waar die kind van hulle is. met hul vakansie is die kind weg en bloed in huis gevind, maar tog besluit hul om terug te gaan huistoe duisende km’s ver, al het hul my toegsluit as onwetting in die land sou ek bly tot ek my kind kry.

Willem ·

Jaaaaa Jessica – miskien moet jy die polisie daar in Brittanje gaan reghelp…?

jessica ·

@Willem kom ons voer n gesprek as jy al die 11223 Portugal polisie se files gelees het. Voor dit nie gebeur nie tel jou opinie ongelukkig zero

SARIE VAN HEERDEN ·

Kry die heldersiendes wat so gereeld op ons Televisie verskyn dat hul kan KYK waar is hierdie ou dogtertjie. Hulle SIEN mos en kontak mense wat “oorgegaan” het. Dan sal ons kan sien hoe hul ons om die bos lei.

Olga ·

Ek was gister so geintreseerd oor die storie dat ek die hele storie gaan opsoek het en alles gaan lees het, alles lui daarop dat die ouers moet weet waar sy is….. hoekom is daar bloed agter die bank en in die voertuig gevind en daai honde reageer net op corpse…… laat daai ouers net se waar is hulle kind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.