Madeleine McCann-verdagte nie nou vrygelaat

Christian B.

Die hoofverdagte in die verdwyning van Madeleine McCann se pogings om binnekort vrygelaat te word, het misluk.

Christian B, soos wat die polisie hom geïdentifiseer het, se appèlaansoek is deur Europa se hoogste hof van die hand gewys, berig Sky News. Hy het die geldigheid betwis van ʼn lasbrief wat deur Duitsland uitgereik is.

Die 43-jarige dien tans tronkstraf in Kiel in die noorde van Duitsland uit vir dwelmhandel. Hy is in 2018 van Italië na Duitsland uitgelewer, maar het die lasbrief betwis omdat dit net na die dwelm-skuldigbevinding verwys het en nie na ʼn verkragtingsklag uit 2005 nie.

Christian B is skuldig bevind aan die verkragting van ʼn 72-jarige Amerikaanse vrou in Praia da Luz in Portugal – dieselfde plek waar Madeleine in 2007 verdwyn het.

Sy dwelmvonnis eindig in Januarie en aanklaers vrees dat hy kan verdwyn indien hy vrygelaat word. Nadat sy appèl van die hand gewys is, beteken dit egter dat hy nie vrygelaat sal word nie selfs al word daar parool aan hom toegestaan.

Duitse aanklaers het intussen gesê hulle het “wesenlike bewyse” dat Madeleine dood is, berig The Sun.

Daar is die afgelope paar maande ook soektogte aan die buitewyke van Hannover uitgevoer. Christian B het vroeër in Braunschweig, sowat 70 km van Hannover, gewoon.

Madeleine McCann soos sy gelyk het toe sy as driejarige dogtertjie vermis geraak het.

Die owerhede in Portugal het ook soektogte uitgevoer in ʼn poging om Madeleine se liggaam te probeer opspoor. Die soektogte in onder meer putte aan die Algarve-kusstreek het egter nog niks opgelewer nie.

Volgens The Sun se berig het vorige soektogte in Portugal glo wel geheuestokkies opgelewer waarop daar foto’s van kindermishandeling en ʼn halfnaakte Christian B gevind is.

Die polisie in Portugal het intussen ook die ondersoek na Christian B in verband met ander beweerde seksmisdade heropen. Hy word onder meer nou ondersoek vir verkragting en dat hy homself aan kinders ontbloot het.

Die McCann-egpaar het die aand van 3 Mei 2007 vir Madeleine en haar jonger broer en suster, ʼn tweeling en destyds twee jaar oud, in hul vakansiewoonstel gelaat waar hulle gelê en slaap het.

Die ouerpaar het saam met vriende by ʼn restaurant sowat 55 m van die woonstel af gaan eet, maar kort-kort deur die loop van die aand om die beurt na die woonstel teruggegaan om te kyk of die kinders veilig is. Omstreeks 22:00 het Kate weer gaan kyk en toe vasgestel dat Madeleine uit haar bed verdwyn het. Sy is nooit weer gesien nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.