Madonna in die sop oor Covid-19-fopnuusvideo

Madonna. (Foto: Facebook)

Die popster Madonna is deur die sosialemediaplatform Instagram onder sensuur geplaas nadat sy ʼn video oor ʼn samesweringsteorie oor Covid-19 met haar 15 miljoen volgelinge gedeel het.

In haar plasing het die sanger beweer ʼn entstof vir Covid-19 is reeds gevind, maar dat dit weggesteek word “sodat vrees mense kan beheer en om die rykes ryker te maak”.

Instagram het die video versteek met ʼn byskrif wat sê: “Vals inligting”. Die plasing het ook gebruikers na ʼn blad herlei wat die bewerings in die video van alle waarheid ontbloot. Die video is later van Madonna se Instagram-bladsy verwyder, maar nie voordat aanhangers geprotesteer het oor haar besluit om die video te deel nie.

Die sangeres Annie Lennox het ook kommentaar gelewer: “Dit is uiterse waansin! Ek kan nie glo hierdie gevaarlike kwaksalwery dra jou goedkeuring weg nie. Hopelik het kuberkrakers jou blad beetgekry en jy is op die punt om te verduidelik,” het sy gesê.

In die video gesels ʼn groep genaamd America’s Frontline Doctors buite die hooggeregshofgebou by ʼn geleentheid wat deur die Tea Party Patriots Action-groep aangebied is. Die beeldmateriaal is ook wyd deur die webwerf Breitbart versprei.

Die Amerikaanse president Donald Trump het verskeie ander video’s van die geleentheid met sy 84 miljoen Twitter-volgelinge gedeel, ten spyte van die feit dat die inhoud die advies van sy administrasie se openbaregesondheidskenners weerspreek.

In die video beweer dr. Stella Immanuel, ʼn dokter van Houston, sy het 350 Covid-19-pasiënte suksesvol met hydroxychloroquine behandel.

Facebook en Twitter het voorheen die video verwyder en gemerk as moontlike fopnuus. Donald Trump jr. is ook 12 ure lank van Twitter verban as ʼn straf omdat hy die video gedeel het.

Volgens Instagram wil hulle maatreëls instel om dit moeiliker te maak op fopnuus te vind en met behulp van die sosialemediaplatform te versprei. Hiervoor gebruik hulle hutsmerke wat die sigbaarheid van sekere stories en tydlyne verminder as dit eers as fopnuus gemerk is.

Madonna. (Foto: Facebook)

Dit is nie die eerste keer wat Madonna (61) onder skoot kom oor omstrede bewerings oor die koronavirus nie. In Maart vanjaar het sy ʼn video vanuit haar bad geplaas waarin sy die virus as “die groot gelykmaker” beskryf.

In Mei het sy onthul dat sy positief getoets het vir teenliggame wat haar kwansuis immuun teen die siekte maak. Sy het gesê sy neem aan sy en haar span het die virus opgedoen ná haar wintertoer.

“Ons het almal gedink ons het net ʼn slegte griep. So, môre gaan ek ʼn lang rit in my motor neem, met die vensters afgerol en ek gaan die Covid-19-lug inasem,” het sy gesê.

Ursula von der Leyen, president van die Europese Kommissie, het gesê Madonna het ʼn skenking van €1 miljoen gemaak aan ʼn fonds wat gestig is deur die Europese Unie om ʼn entstof vir Covid-19 te vind.

Bronne: BBC, The Guardian

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

ES ·

Die mense wat die hardste praat het gewoonlik die minste om te se… kan nie glo sy maak haarself skuldig aan sulke samesweringsteoriee nie. Sing eerder maar weer.

Simon ·

Sy het dalk ‘n geldige punt beet. Regerings oor die hele wereld heen aanbid mamon en sal enige ding doen om dit te beskerm terwyl die neederige mense die prys betaal

Johan ·

Ek is nou NIE ń fan van diè girl nie,maar daar is ń ondersoek in die VSA oor die virus se ontstaan,behandeling vir siekes, alles duister omdat die entstof groot geld beteken vir sekere geleerdes en die land wat hul verafgod

Johann ·

Meskien is die entstof fopnuus Hoe sal ons weet? Maar selfs in ons eie land kan osn sien hoe ‘n groep net ryker word met staat tenders en arm mense net meer word

Pierreli ·

Die wat ryker word is defnitief deel van die hele pandemie. almal praat dieselfde taal en is saam in dieselfde bed.

Pierreli ·

Sy is deel van die hele smet spul. Sy het al hoeveel keer bewys wie haar god is, die een van die wêreld. Die ou vyand. Kan niks glo wat uit hul monde kom nie want daar is geen waarheid in hulle nie.

koos10 ·

Photoshop is ‘n wonderlike ding, ek dag eers die foto is van Kylie Monoque.

Riaan ·

Die hele patalje word gedruk in die rigting van ‘n verpligte entstof. Kyk gerus na die onderhoud/ dabat tussen Robert F. Kennedy, Jr. en Alan Dershowitz op youtube. In pandemie plaas jy nie sensuur op behandelinge nie, jy doen ordentlike navorsing en sif die kwaksalwery van die ware Jakob uit. Sodat die beste behandeling te voorskyn kom. ‘n Entstof is nie altyd die enigste of beste antwoord nie…

john ·

Wel miskien is die entstof story nie waar maar dit is defenetief waar dat regeerings vrees gebruik om wetgewings deur te voer wat andersins nooit aanvaar word nie. Benjamin Franklin once said: “Those who would give up essential Liberty, to purchase a little temporary Safety, deserve neither Liberty nor Safety.”
So dit is nie n nuwe taktiek nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.