Magnaat wil ‘Tinder Swindler’ dagvaar

Simon Leviev, gebore Shimon Hayut, het vroue uit miljoene dollar gekul. (Foto: Facebook)

Die naam Simon Leviev, oftewel Shimon Hayut, is een wat nog lank nie van mense se lippe gaan verdwyn nie.

Hy is egter beter bekend as die Tinder Swindler nadat ʼn Netflix-dokumentêr mense wêreldwyd aan die gons gehad het.

Die swendelaar het hom as die seun van die Russies-Israeliese diamantmagnaat Lev Leviev voorgedoen. Lev en sy dogter, Chagit Leviev, uitvoerende direkteur van die Leviev Group USA, het ʼn string regstappe teen Simon ingestel as gevolg hiervan.

Hy het oor Europa heen gereis, agter dié naam weggekruip en drie vroue onder die vaandel van foprykdom uit honderde duisende dollar geswendel.

Simon is tans op vrye voet en alhoewel hy nie ingestem het om deel van die dokumentêr te wees nie, het hy onlangs ʼn video-onderhoud aan Inside Edition toegestaan.

Hierin het hy volstaan by die feit dat hy nie die “monster is wat almal geskep het” nie.

Chagit het egter in ʼn verklaring aan E! News verduidelik dat die doelwit van die multimiljoen‑dollar regsgeding is om hom “geregtigheid in die oë te laat staar” en die “straf te kry wat hom toekom”.

Die verklaring het verder beaam dat die wegkruip agter die Leviev-identiteit hul familienaam uitgebuit het.

Die prokureur van die Leviev-familie het benadruk dat dit net die eerste van vele regstappe sal wees.

“In die volgende fase sal ons ʼn monetêre regsgeding teen hom en enige iemand wat hulle met hom vereenselwig, begin.”

Simon het in 2015 sy naam wettiglik na Simon Leviev verander en het deur ʼn verteenwoordiger gesê dat hy nie glo dat die saak geslaagd sal wees nie. Hy het verder beweer dat die familie die regsgeding slegs vir publisiteit ingestel het.

Bykomende bron: IOL 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Herpiet ·

Hy moet met Chagit trou, die meisies terugbetaal en dan is alle drama verby

Tanya ·

Haar Pa sal haar onterf van sy miljoene as sy familie enigsins met die skarmonkel moet meng! Ek neem hom natuurlik glad nie kwalik nie!

modiglianigirl ·

Wow, ek ken ongelukkig iemand anders wat ook só ‘n blatante (psigopatiese) swendelaar is.
Hierdie tipe karakters bevestig die bestaan van ‘n parallelle realiteit waarin alle morele reëls en perseptuele waardes ver verwyderd is van die realiteit waarin ek funksioneer.
Om die Leviev-familie te beskryf as aandag vrate opsoek van goedkoop publisiteit terwyl Simon, Shimon se algehele persona / bestaan se fondasie rus op goedkoop publisiteit en parasiteer op ‘n bekende welgestelde familie se identiteit en sosiale bekendheid is die toonbeeld van reflektering.
Maar nou ja, wat weet ek hier vasgevang in my perseptuele realiteit.

Marius ·

Baie mense is onnosel genoeg om vir die fop vinnige rykword skemas te val.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.