Malaria nou epidemie in Burundi

Argieffoto. Foto: Pixabay.

Argieffoto. Foto: Pixabay.

Die Burundiese departement van gesondheid het Maandag aangekondig dat malaria nou tot epidemie verklaar is in dié land.

Josiane Nijimbere, minister van gesondheid, het aan verslaggewers gesê malaria het sedert die begin van die jaar byna 800 lewens geëis. “Dit is byna tien sterftes elke dag,” het Nijimbere verduidelik. Dié syfer is meer as ʼn kwart van die 3 000 mense wat in 2016 aan malaria beswyk het.

Nijimbere het gesê kinders onder vyf jaar en swanger vroue is die kwesbaarste vir dié siekte.

Die streke in die noorde en die noordoostelike dele van Burundi word die ergste geraak. Die provinsies Kirundo, Muyinga, Karusi, Cankuzo, Ngozi, Kayanza, Gitega, Rutana and Ruyigi word veral ook beïnvloed deur die siekte.

Uit die 11 miljoen mense in Burundi is daar in 2016 agt miljoen gevalle aangemeld.

Nijimbere het gesê daar is sedert Januarie 2017 al byna twee miljoen gevalle aangemeld. Dit is ʼn toename van 13% teenoor dieselfde tydperk in 2016. “Hierdie syfers maak my bekommerd,” het Nijimbere gesê. Die pasiënte in die 11 gebiede wat die ergste geraak word, sal gratis mediese sorg deur paramedici ontvang.

Byna $32 miljoen word benodig om die epidemie te beveg. Die geld sal byeengebring word deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) asook ander skenkers.

Klimaatsverandering, asook die kweek van rys in die hoëveld van Burundi word deur kundiges voorgehou as van die redes hoekom malariagevalle bly styg het sedert 2013.

Volgens die kundiges word iets tot ʼn epidemie verklaar wanneer die getal gevalle wat aangemeld word meer is as die vorige vyf jaar se gemiddelde getal gevalle.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

John ·

Nie net malaria en geelkoors nie maar ook die gevreesde zika kan hier by ons voorkom. Die siektes is erg verby en die bespuiting met gifstowwe is eens so gevaarlik. Ons toegangsroetes en lughawens moet slaggereed wees vir sulke aanslae en mense se reisdokumente en immunisasie-vereistes nagaan en selfs hul koors meet. Ons doeane-personeel is laks en maklik omkoopbaar. Hulle kan dalk self eerste aan die kortste end trek.

Alida ·

DDT moes nooit verwyder gewees het nie. Beste ding op aarde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.