Malaria-sterftes styg skerp weens Covid-pandemie

ʼn Vrou sit onder ʼn muskietnet om haarself te beskerm teen muskiete wat malaria kan oordra by haar huis in Barcelona, Anzoategui, Venezuela (Maart 2021) (Foto: Pedro Rances Mattey/AFP)

Pandemie-verwante ontwrigtings het tien duisende meer malariasterftes in 2020 tot gevolg gehad, het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) Maandag gesê. Dringende optrede het egter ʼn erger scenario voorkom.

Die Verenigde Nasies se gesondheidsagentskap het bevind Covid-19 het vordering in die stryd teen malaria omgekeer. Daar was ongeveer 241 miljoen malariagevalle wêreldwyd in 2020 – dit is 14 miljoen meer gevalle as die vorige jaar. Die dodetal het verlede jaar tot 627 000 gestyg – 69 000 hoër as in 2019.

Byna tweederdes van dié bykomende sterftes word verbind met ontwrigting in die voorsiening van voorkomingsmiddels, diagnose en behandeling tydens die pandemie, het die WGO bygevoeg. Die organisasie benadruk egter “dit kon baie erger gewees het”.

Die WGO wys op sy vooruitskatting vroeg in die pandemie dat diensontwrigting kan veroorsaak dat malariasterftes in 2020 sou verdubbel.

“Danksy die harde werk van openbare gesondheidsagentskappe in malaria-gebiede het die ergste vooruitskattings nie waar geword nie,” het Tedros Adhanom Ghebreyesus, hoof van die WGO, in ʼn verklaring gesê. “Nou moet ons dieselfde energie en toewyding gebruik om die terugslag om te keer. Ons moet vinniger vordering maak teen dié siekte.”

Die wêreld het die afgelope paar jaar goeie vordering gemaak in die stryd teen malaria met jaarlikse gevalle wat teen 2017 met 27% gedaal het en sterftes wat met meer as 50% afgeneem het.

Die getalle het egter in die jare voor die pandemie begin stagneer. Die situasie het in sub-Sahara-Afrika vererger, waar 95% van alle malariagevalle en 96% van sterftes plaasvind. Ongeveer 80% van alle sterftes is kinders jonger as vyf.

Die WGO-verslag wys dat 24 lande ʼn toename in malariasterftes aangemeld het sedert 2015 – die basislynjaar vir die agentskap se wêreldwye malaria-strategie.

In die 11 lande met die hoogste malariagevalle wêreldwyd het gevalle van 150 miljoen in 2015 tot 163 miljoen in 2020 toegeneem. Sterftes het van 39 000 tot 444 600 toegeneem oor dieselfde periode.

“Ek dink ons is op die randjie van ʼn moontlike malaria-krisis,” sê dr. Pedro Alonso, hoof van die WGO se wêreldwye malariaprogram. “Nie net kom ons nie nader aan algehele uitwissing [van die siekte] wêreldwyd nie; die probleem word eintlik erger in groot dele van Afrika.”

Talle lande maak egter goeie vordering. In 2020 het 26 land minder as 100 plaaslike gevalle van die siekte aangemeld. Dit is in vergelyking met ses lande in 2000. Lande wat minstens drie jaar lank nie enige plaaslike malariagevalle aanmeld nie, kan by die WGO aansoek doen vir ʼn malariavry-status. Elf lande is die afgelope twee dekades malariavry gesertifiseer.

Nog ʼn positiewe stap is die ontwikkeling van die eerste malaria-entstof. Die internasionale entstof-alliansie Gavi het verlede week gesê hy het nagenoeg $156 miljoen goedgekeur om die entstof beskikbaar te maak aan kinders in sub-Sahara-Afrika.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Andre ·

Danie, Afrika beveg al jare lank die probleem,maar die medisyne is nou seker ook soos Ivermectin skielik giftig. As almal nie so op ‘n knop gejaag is met covid nie, sou die mense maar net soos gewoonlik dit bestry het. Eienaardig dat ‘n entstof nou so vinmig ontwikkel is.

Frank ·

Miskien moet hulle sommer ook kyk of die Covid-inspuiting nie die weerstand teen Malaria verlaag nie.

Rupert Ashford ·

Lekker propaganda-stuk die – stuur nog geld!!! Die “agteruitgang” in Afrika is deels te wyte aan die feit dat al groter dele van Afrika “groener” word maw meer habitat vir muskiete wat die siekte sal versprei. Afrika gaan die broodmandjie van die wereld word oor die volgende 50 jaar of so as die verkoeling plaasvind soos voorspel deur Zharkova et al, en as die politieke gemors met militante Islam in sentraal Afrika en die SAHEL redelik gestabiliseer kan word, so mens kan verwag dat tropiese siektes meer algemeen in groter dele van Afrika sal voorkom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.