Malawi-president soek nuwe verkiesing

Joyce Banda Foto: @the_new_age, Twitter

Joyce Banda Foto: @the_new_age, Twitter

Joyce Banda, president van Malawi, het Saterdag die afgelope week se verkiesing in dié land “nul en ongeldig” verklaar en het ʼn nuwe verkiesing versoek.

Banda voer aan daar was “ernstige ongerymdhede” met die stemmery en gesê ʼn nuwe verkiesing sal binne 90 dae gehou word. Sy het bygevoeg dat sy haarself nie as kandidaat beskikbaar sal stel nie, om seker te maak dat die verkiesing “vry en regverdig” sal wees.

Peter Mutharika, haar grootste opponent, het gesê Banda se besluit om die verkiesing ongeldig te verklaar is “onwettig”. “Niks in die grondwet bied die president die mag om ʼn verkiesing te kanselleer nie,” het Mutharika gesê. Gedeeltelike uitslae het getoon hy het baie beter as Banda gevaar in die verkiesing.

Banda voer aan sommige mense het meer as een keer gestem, daar is met stembriewe gepeuter, oorsigbeamptes is in hegtenis geneem en die rekenaarstelsel het in duie gestort. Haar ondersteuners voer aan Mutharika is verantwoordelik vir die ongerymdhede.

Mutharika (74) het, ná ʼn derde van die stemme getel is, reeds 42% gewerf en Banda 23%.

Mutharika is die broer van wyle president Bingu wa Mutharika, wat twee jaar gelede in sy amp gesterf het. Hy wou glo sy broer se afsterwe versteek deur sy liggaam na Suid-Afrika te vlieg om te verseker dat adjunkpresident Banda nie by hom oorneem nie. Aanklagte van hoogverraad is teen Mutharika gelê. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.