Maleisië eis dat MH17-ongelukstoneel beskerm word

'n Nagwaak is in Australië gehou vir die slagoffers van vlug MH17. Foto: Stefan Romaniw/Facebook

‘n Nagwaak is in Australië gehou vir die slagoffers van vlug MH17. Foto: Stefan Romaniw/Facebook

Maleisië se departement van vervoer het Saterdag sy medelye uitgespreek met die oorledenes van vlug MH17 en terselfdertyd sy kommer uitgespreek oor die ongelukstoneel wat nie behoorlik beveilig is nie.

Liow Tiong Lai, Maleisië se minister van vervoer, sê die land rou oor die 298 passasiers en bemanningslede wat in die ramp omgekom het. “Ons beloof om alles in ons vermoë te doen om te verseker dat die ondersoek afgehandel word en dat geregtigheid sal seëvier.”

Malaysia Airlines se vlug MH17 is glo Donderdag oor Oekraïne neergeskiet. Volgens Lai is Maleisië bekommerd dat daar waardevolle bewysstukke op die ongelukstoneel verlore gegaan het.

“Inmenging by die ongelukstoneel kan die ondersoek ondermyn. Enige optrede wat verhoed dat ons van die waarheid leer oor wat met vlug MH17 gebeur het, kan nie geduld word nie. Versuim om sodanige inmenging te stop sal verraad wees teenoor die lewens wat verlore gegaan het.”

Lai sê die burgers van 11 nasies, wat nie betrokke is by die konflik in Oekraïne nie, kan nie ter ruste gelê word nie. “MH17 het ‘n geopolitieke kwessie word. Maar ons moet nie vergeet dit is ‘n menslike tragedie nie. Dae nadat die vliegtuig neergestort het, lê die oorskot van 298 mense onbedek.”

“Geweld het hulle lewens geëis en nou verhoed geweld dat daar finale respek aan hulle getoon word. Dit kan nie voortgaan nie.”

Lai sê ‘n span van Maleisië het vroeër vandag in Kiëf aangekom. “Ons vra vir voortgesette ondersteuning van die regering in Oekraïne en die ander partye wat betrokke is, terwyl ons span poog om die oorskot van passasiers en bemanningslede uit te ken en terug te kry.”

Lai sê 75 verskillende lugrederye het in die twee voor vlug MH17 neergestort het, van dieselfde vlugroete gebruik gemaak.

“Die vlug en bemanningslede het die reëls nagekom. Op die grond is die reëls van oorlog egter verbreek. Dit blyk dat vlug MH17 in ‘n onaanvaarbare daad van aggressie neergeskiet is; die passasiers en bemanning doodgenaak is deur ‘n missiel.

Maleisië veroordeel die wrede daad van aggressie, en eis dat diegene wat verantwoordelik is gevind word en sonder versuim die volle mag van geregtigheid in die gesig moet staar,” het Lai afgesluit.

Lees ook:
Gesin uitgewis in MH17-vlugramp
Egpaar verloor familie in albei MH-vlugrampe
SA man was op vlug MH17
Vlug MH17 is neergeskiet, sê VSA intelligensie
Video: Malaysia Airlines-vliegtuig stort neer in Oekraïne

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chris ·

Op MaroelaMedia het julle al berig van ‘n SA-man, ‘n Maleisiese gesin wat uitgewis is en oor (hier) die reaksie van die Maleisiese regering maar nog niks oor die 193 Nederlandse dooies, die optrede van die Nederlandse regering en die belemmerings wat Nederlandse amptenare en hulpdienste ondervind om by die ramp se toneel uit te kom.

Julle van MaroelaMedia kan sonder enige probleme die Nederlandse media (aanlyn) lees, dus … doen dit?!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.