Maleisië se laaste Soematraanse renosterbul sterf

Tam, Maleisië se laaste oorlewende Soematraanse renosterbul, is dood. (Foto: Facebook via WWF-Malaysia)

Maleisië se laaste oorlewende Soematraanse renosterbul is Maandag in die staat Sabah dood.

Die plaaslike The Star berig die renoster, Tam, het die afgelope week intensiewe behandeling ontvang vir vermoedelik ouderdomsverwante lewer- en nierprobleme. Tam was na raming in sy middel dertigs.

Dit word vermoed dat hy minstens 20 jaar oud was toe hy in 2008 gevind is waar hy in ʼn oliepalmplantasie in Sabah rondgedwaal het. Hy is deur natuurowerhede gered en in ʼn beskermde reservaat geplaas.

Die gemiddelde lewensverwagting vir Soematraanse renosters wissel tussen 35 en 40 jaar. Volgens The Star beteken Tam se afsterwe dat daar slegs een Soematraanse renoster in Maleisië oor is, ʼn renosterkoei genaamd Iman.

Die Soematraanse renoster is op die lys vir kritiek-bedreigde spesies as gevolg van stroping vir hul horings om in tradisionele medisyne te gebruik en onwettige indringing in sleutelhabitatte vir renosters. Die World Wide Fund for Nature sê die kwynende bevolkings beteken dat die oorblywende renosters so geïsoleerd is dat hulle selde indien ooit mekaar ontmoet om voort te plant.

Pogings om die renosterbevolking op die eiland Borneo te vermeerder was grootliks onsuksesvol, ondanks samewerking met wildparke in Indonesië en gevorderde voortplantingstegnieke soos in vitro‑bevrugting. Hoop dat Tam met twee renosterkoeie sou paar, was aan skerwe nadat dit aan die lig gekom het dat een van die koeie verskeie siste in haar baarmoeder gehad het en die ander met baarmoederfibrose gediagnoseer is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

MW ·

Het die program op TV gevolg, daar was so baie moeite gedoen. Hy was darem in sy laaste dae bederf

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.