Man (20) se groottoon is nou ʼn duim

Zac Mitchell van Australië (Foto: Zac Mitchell/REX Features)

ʼn 20-jarige plaaswerker van Australië sterk tans in die hospitaal aan nadat hy ʼn agt uur lange operasie ondergaan het om sy regter-groottoon aan sy hand te heg nadat hy vroeër vanjaar sy duim verloor het.

Zac Mitchell, wat op ʼn beesplaas in die weste van Australië werk, het sy duim in April vanjaar verloor toe ʼn bul sy hand teen ʼn heining vasgeskop het.

Hoewel die duim aan mediese personeel oorhandig is, was twee operasies om dit weer te heg nie geslaagd nie. Volgens Mitchell het dokters aan hom gesê die enigste ander opsie is om sy regter-groottoon te laat amputeer en dit aan sy hand te heg.

Dié operasie het agt uur lank geduur. Mitchell het vandeesweek aan The Telegraph gesê hy beplan reeds om na die plaas terug te keer om sy werk daar voort te sit.

Hy sê die verlies van ʼn groottoon het hom tot in dié stadium nog nie beïnvloed nie. “Ek het nog nie omgeval nie, so ek weet nie of die groottoon werklik soveel bydra tot balans nie,” het hy geskerts.

Dr. Sean Nicklin wat die operasie uitgevoer het, sê daar is in wese geen negatiewe impak op die liggaam wanneer ʼn groottoon verwyder word nie.

“Ons almal dink dié toon dien ʼn kritieke doel, maar om dit te amputeer veroorsaak nie enige probleme nie. Mense keer terug na hul normale lewe, hulle dra hul werkskoene en speel weer sokker. Die enigste goed waarmee jy eintlik gaan sukkel, is om branderplank te ry omdat dit ongelooflike balans verg. Een van my ander pasiënte weier om die operasie te ondergaan omdat hy dan nie meer dié sport sal kan beoefen nie.”

Zac Mitchell van Australië (Foto: Zac Mitchell/REX Features)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Herman Smit ·

Ek het ook dieselfde operasie in 1997 in Pretoria gehad. Toon na duim. Was ‘n groot sukses. Leef vandag normaal. Het selfs sport gedoen na die operasie. Suid Afrika het baie goeie dokters.

Herman Smit ·

Ek het dieselfde operasie in 1997 in Pretoria gehad. Toon na duim. Was ‘n groot sukses. Leef vandag normaal. Het selfs sport gedoen na die operasie. Suid Afrika het baie goeie dokters.

Herman Smit ·

Wonderlik dat dit ‘n sukses was. Is al ook in Suid Afrika gedoen.

Mia ·

Ekt ook my duim verloor toe ek 10 jaar oud was, hulle wou ook my groot toon amputeer maar ekt gese nee en toe bou hulle vir my n duim met vel en been uit my heup uit. en hy werk net so goed soos n duim.

anton ·

Daar het ek nou wraggies iets geleer vandag.
Was nog altyd onder die indruk dat jy nie sonder jou groot toon kan normaal loop nie. Dat jou balans weg is.
Wys jou, nooit te oud om iets te leer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.