Man 40 jaar ná reeksmoorde vasgetrek

Joseph James DeAngelo tydens sy hofverskyning. (Foto: AP Photo/Rich Pedroncelli)

ʼn Man wat verbind word met reeksmoorde en verkragtings in die 1970’s en 1980’s in Kalifornië in die VSA is die afgelope week in hegtenis geneem, 40 jaar nadat die eerste van dié moorde gepleeg is.

Joseph James DeAngelo, ʼn 72-jarige voormalige polisiebeampte, is voorlopig amptelik van twee moorde aangekla, maar die aanklaers glo nog talle aanklagte sal mettertyd bygevoeg word namate hul ondersoek vorder. DeAngelo kan nie in verband met die verkragtings van destyds aangekla word nie, omdat die misdade reeds verjaar het.

Shelly Orio van die Sacramento-gebied se aanklagkantoor, het tydens ʼn nuuskonferensie gesê die polisie glo “ʼn enkele verdagte” kan met minstens 12 moorde, 45 verkragtings en talle inbrake in Kalifornië in die 1970’s en 1980’s verbind word.

Die moordenaar is destyds “The Golden State Killer” gedoop, maar die polisie se ondersoek na die misdade het niks opgelewer nie. Die eerste moorde het in 1978 plaasgevind toe Brian en Katie Maggiore doodgeskiet is terwyl hulle met hul hond in Rancho Cordova gestap het. Talle ander moorde het gevolg soos “The Golden State Killer” sy skrikbewind voortgesit het. In 1986 het die moorde eensklaps opgehou.

DNS-bewyse wat op die misdaadtonele gevind is, het die reeksmoorde, inbrake en verkragtings met mekaar verbind, maar die polisie kon nie ʼn verdagte in hul ondersoeke identifiseer nie.

Die misdade het vir dekades lank ʼn raaisel gebly met geen teken dat die polisie ooit sou uitvind wie verantwoordelik was nie.

Polisiebeamptes het uiteindelik DeAngelo met die misdade verbind deur ʼn bevriesde DNS-monster te vergelyk met inligting op ʼn stamboomwebtuiste waarop mense hul herkoms kan naspeur. Ondersoekers in die saak wou nie uitbrei oor die DNS-bewyse of hoe presies hulle dit reggekry het om DeAngelo met die DNS te verbind nie, maar volgens mediaberigte het ʼn verlangse familielid van DeAngelo sy of haar genetiese profiel op die webtuiste gestoor.

Volgens die tydlyn beteken dit dat DeAngelo ʼn polisiebeampte moes gewees het toe die misdade begin het.

DeAngelo is Dinsdag by sy huis in Citrus Heights in Sacramento in hegtenis geneem. Hy het Donderdag in ʼn oranje oorpak en vasgeboei aan ʼn rolstoel sy eerste verskyning in die hof gemaak. Die BBC berig DeAngelo se borgtogaansoek is geweier. Volgens die BBC het DeAngelo aan die hof bevestig dat hy ʼn regsverteenwoordiger het, maar hy het nie gepleit nie.

Hy sal weer op 14 Mei in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Cherokee ·

40 jaar later word hy vasgetrek. Aan àlle, soos in èlke lid van die polisiediens wat met tussenposes die polisie hier in Maroela verdedig, vertel aan die luisteraars en aan die kykers, of julle ook ‘n saak sò lank navolg. En moet nie vertel van ‘sake oophou’ nie maar vertel van aktiewe opvolging. Ons is die ene ore en oge.

humor ·

Ons wag. WIie het prof. Johan Heyns en Robbert Smith vermoor?

t ·

Sal nooit weet nie. Daar was nie DNA deur die moordenaars gelos nie.

Cherokee ·

Interessante vraag, Humor. As ek reg onthou was Die Robert Smith geval kort voor die inligtingskandaal en daar was raaiskote wat gemik het na politieke moorde. Hoe het Tsafendas werk gekry in die parlement? Vrae sonder antwoorde.

Ag Asseblief ·

Dit steek my dwars in die krop om sekere “keyboard warriors” se kommentaar te lees oor die Polisie. Almal weet dat die Polisie deur die jare verswak het as gevolg van administratiewe veranderinge in die bevel struktuur. Mense is daagliks heel voor in die koor om te gil, spring en arms swaai oor hoe pateties dit is. Dit is ook duidelik dat sommiges nie bereid is om te erken dat daar wel nog toegewyde mans en vrouens is wat op n daaglikse basis die uniform aantrek en met trots dra nie. Die egte polisielede word oor dieselfde kam getrek as die onbevoegdes. Ek wonder hoe sal die grotes hier vorder in hulle verskeie werke indien hulle dieselfde behandel word as die mees onbevoegde in hulle kantore of waarookal hulle kan sit en wag vir n nuus berig waarop hulle besluit hulle is kenners op die gebied net om n paar woorde/ sinne te tik om mense af te kraak. In my beroep het ek al met verskeie polisie lede te doen gehad in verskillende provinsies, en daar is lede wat nogsteeds alles in hulle vermoe sal doen om geregtigheid te laat seevier. Dink eerder of jy self in die middel van die nag na n onbekende plek sal gaan met die wete dat daar met aanvals gewere op jou geskiet gaan word. Indien jy nie bereid is om dit te doen nie, hou eerder op kommentaar lewer oor iets waaroor jy niks weet nie.

Danel Casey ·

Sorry maar ek het ook al heelwat met die polisie te doen gehad en ek kan net noem…pateties.. swak…ek het GEEN respek vir die SAP nie. Ek is jammer maar ek loop net in dom arrogansie vas heeltyd met ons SAP lede. Regoor die kleur grens heen. Vrot en vernietig tot die been in…ons huidige SAP.

Christo ·

Wat indrukwekkend is, is dat die speurders wat die saak ondersoek het seker al afgetree moes gewees het, en tog het iemand die moeite gedoen om die ‘cold case’ te ondersoek om die raaisel op te los. Indien daar Suid-Afrikaners in die VSA is wat die berig lees, kan hulle namens ons die betrokke speurders geluk wens. In SA bly ons ‘cold cases’ net stof vergader.

Hennie ·

Humor om jou vraag te beantwoord, gaan lees Adv. P.J. Pretorius se boek “Volksverraad” wat op internet geplaas is sodat mense soos ek en jy dit kan lees. Die boek is spesifiek daar geplaas soos Adv. Pretorius dit stel, dat enigiemand wie dit wil weerle, dit in die hof kan doen. Die boek het ‘n duidelike beskrywing oor Robert Smit se moord en wie direk daarby betrokke was.

Sarel ·

Daar is wel nog beamptes wat hulself blootstel om te probeer.
Die oorgrotemeerderheid egter ondersoek nie eers n pas aangemelde saak nie wat nog te se van n “Cold Case”
Probleem in SA is dat elke afdeling spesifiek getaak is, daar is geen oorvleulende werk nie, alles word in silo’s gedoen. Verder blyk dit dat niemand mag op n ander se terrein werk nie en het n senior polisiebeampte van een silo geen bevoegdheid oor die mees junior binne die volgende silo nie.
Daarom is dit onwaarskynlik dat so n geval binne die Republiek so opgelos sal word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.