Man (60) gebruik knipmes om krok af te weer

Argieffoto

ʼn 60-jarige man van Australië het verlede week letterlik uit die kake van die dood ontsnap toe hy ʼn krokodilaanval oorleef het. Die man het die krokodil – wat hom gegryp het – met ʼn knipmes afgeweer.

Volgens Australiese owerhede was die man besig om vis te vang by ʼn rivier naby Hope Vale, Australië, toe die vier meter lange krokodil hom aan die voete beetgekry en in die water probeer trek het.

Die man het na ʼn boomtak gegryp in ʼn desperate poging om op die rivieroewer te bly. Die krokodil was egter te sterk en het die man in die water getrek.

Net toe die man die water binnegaan, het hy daarin geslaag om sy knipmes – wat aan sy gordel vasgemaak was – te gryp. Hy het die krokodil verbete op die kop gesteek totdat die krokodil sy voete laat los het.

Die man het toe teen die rivierwal uitgeklouter om van die dier te ontsnap.

Hy is ná die voorval na die Cooktown-hospitaal gehaas en later per helikopter na die Cairns-hospitaal geneem vir verdere mediese behandeling. Hy lê ʼn week later steeds in die hospitaal.

ʼn Woordvoerder van die departement van gesondheid het bevestig hy is stabiel.

Natuurlewebeamptes sê die man is gelukkig om te lewe.

“Die man was baie gelukkig om uit die greep van die krokodil te ontsnap. Die kans dat dit gebeur is omtrent nul,” sê Matt Brien van die departement van omgewingsake in Queensland.

Volgens Brien het die krokodil eintlik sy oog op ʼn bees gehad wat in die omtrek was. Die man was net op die verkeerde tyd op die verkeerde plek.

Brien sê die man is getraumatiseer deur die voorval, en het tyd nodig vir geestelike en fisiese genesing.

“Dit moet ‘n absoluut ontstellende ervaring wees. Hy sal dit nie sommer gou vergeet nie.”

Die getal soutwaterkrokodille in die Kaap York-skiereiland het skerp toegeneem nadat hulle in 1971 tot ‘n beskermde spesie verklaar is. Dié krokodil kan tot sewe meter lank word en meer as ‘n ton weeg.

Plaaslike inwoners en besoekers word gewaarsku is om hul afstand te hou van krokodil-bewoonde waterweë.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dup

Crocodile Dundee in lewende lywe…….

Dries

Daai man sal nooit in sy lewe meer wees sonder sy kniomes nie. Verseker nie

Blits

Dis hoekom ek nie visvang nie

Marisa W

Ek wonder hoe weet hulle dat die krokodil ‘n bees in die oog gehad het!?

Jan Seerot

‘n Leatherman is jou beste vriend.