’n 60-jarige man het homself na bewering sowat 90 keer teen Covid-19 in Duitsland laat inent, om vervalste inentingsertifikate aan mense te verkoop wat nie self ingeënt wil word nie.
Hy het glo al die dosisse entstof self ontvang om sodoende werklike entstofbondelnommers op die vervalste sertifikate te kon aanbring.
ABC News berig die man van Maagdeburg – wie se naam ingevolge die Duitse privaatheidsreëls nie bekend gemaak word nie – het na bewering oor etlike maande soveel as 90 inentings by inentingsentrums in die Duitse deelstaat Sakse ontvang.
Die polisie het hom vroeër vandeesmaand by ’n inentingsentrum in Eilenburg in Sakse uitgevang toe hy vir die tweede dag agtereenvolgend vir ’n inenting opgedaag het. Die polisie het op verskeie blanko inentingsertifikate wat in sy besit was beslag gelê en met vervolging begin.
Die man is nie tans in aanhouding nie, maar word ondersoek vir die ongemagtigde uitreiking van inentingsertifikate en dokumentvervalsing.
Dit is nog nie duidelik watter impak die ongeveer 90 dosisse van Covid-19-entstowwe, van verskillende handelsmerke, op die man se gesondheid het nie.
Die Duitse polisie het die afgelope maande talle klopjagte uitgevoer in verband met vervalsing van inentingsertifikate. ’n Inentingsertifikaat maak toegang tot die openbare lewe en lokale soos restaurante, teaters, swembaddens of werkplekke moontlik.
CBS News berig Duitsland het die afgelope weke hoë Covid-19-infeksiegetalle van die nuwe Omikron-subvariant aangeteken. Die meeste regulasies om die virus te bekamp is Vrydag in dié land opgeskort. Die dra van gesigsmaskers is nie meer verpligtend in kruidenierswinkels en die meeste teaters nie, maar dit is steeds verpligtend wanneer burgers van openbare vervoer gebruik maak. In die meeste skole in Duitsland hoef leerders ook nie meer maskers te dra nie.
Sondag is altesaam 74 053 nuwe Covid-19-gevalle in Duitsland aangemeld.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
32 Kommentare
Hy maak ‘n gek van die sg. inenting.
Wat ‘n held!
Wat mense nie vir geld sal doen nie……
Hy is sommer nou reg vir ‘n leeftyd se inspuitings.
Dan is die inenting mos nou so erg nie .