Man aangekla van moord op juffrou

Sabina Nessa (Foto: Twitter)

ʼn Man is Maandag aangekla van moord ná die liggaam van ʼn laerskoolonderwyser in ʼn park naby haar huis in Londen, Engeland, gevind is.

Sabina Nessa (28) het op 17 September omstreeks 20:30 haar huis in Kidbrooke, in die suidooste van Londen, verlaat om ʼn vriend by ʼn nabygeleë kroeg – The Depot Bar in Kidbrooke Village – te ontmoet. Sy het deur die Catorpark in Kidbrooke Park-weg gestap om by die kroeg uit te kom.

Nessa het egter nooit by die kroeg opgedaag nie.

The Guardian berig Nessa se liggaam is die volgende dag omstreeks 17:30 in dié park gevind.

Koci Selamaj (36) is die afgelope Sondag in Eastbourne, sowat 100 km van Londen, in hegtenis geneem in verband met Nessa se dood. Hy is Maandag amptelik van moord aangekla.

Hy sal na verwagting Dinsdag in die landdroshof in Willesden verskyn op aanklagte van moord.

BBC berig inwoners van Kidbrooke het blomme, kerse en kaartjies op Peglerplein, digby die park, vir Nessa neergelê.

ʼn Nagwaak is ook Vrydag ter herdenking van haar lewe gehou. Meer as 500 mense het die nagwaak bygewoon.

“Ek het ʼn ongelooflike, omgee-sussie verloor. Sy het die wêreld heeltemal te vroeg verlaat. Ons familie is verpletterd,” het Nessa se suster, Jebina Yasmin Islam, tydens die nagwaak gesê.

Geslagsgeweldpandemie

CNN berig die moord op Nessa het opnuut die ontsteltenis oor geweld teen vroue en kinders laat opvlam.

Volgens data van Brittanje se kantoor vir nasionale statistieke, is meer as 200 vroue tussen Maart 2019 en 2020 in die Verenigde Koninkryk vermoor.

“Dit is ’n eindelose siklus van geweld teen vroue en dit is regtig neerdrukkend,” het Jamie Klingler, een van die medestigters van die Reclaim These Streets-veldtoggroep teen vrouegeweld, gesê.

Die groep is gestig ná die aanranding en moord op die 33-jarige Britse vrou, Sarah Everard, in Maart.

Everard het op 3 Maart by vriende in die Clapham-omgewing, in die suide van Londen, gekuier. Sy het daarna na haar huis in Brixton teruggekeer. Dit is toe dat sy spoorloos verdwyn het.

Sy is na bewering daardie aand ontvoer en vermoor.

’n Britse polisiebeampte, Wayne Couzens (48), het al in die hof in verband met haar moord verskyn.

Volgens Klingler toon die moord op Nessa dat niks verander het in die ses maande sedert Everard vermoor is nie.

“Geweld teen vroue is nie een van die drie prioriteite van enige polisiedepartement in Engeland of Wallis nie. Niemand neem dit ernstig op nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

LeanetteS ·

Geen Taalblaps: Google bietjie, daar is meer as 18 landroste; Die een wat bo genoem word @MILLESDEN LANDROS, is gelee, Willesden Magistrates’ Court
Address: 448 High Rd, London NW10 2DZ, United Kingdom

Frank ·

Nog ‘n taalblaps: CNN word aangehaal as geloofwaardige bron

Cherokee ·

En dìt is die ènigste kommentaar wat julle twee lewer, op so ‘n neerdrukkende vertelling. Dit is die werklike blabs.

Realis Thailand ·

Bernard Eerstens daar is landdroste in die VK.
Hulle noem dit in Engels vir jou inligting Magistrate
Jy het n lelike taalblaps gemaak
Tweedens die soort aanvalle kom voor want vele mans dink n vrou is iets wat sy eiendom is en dan ook die ouderwetse geloof gebruik by baie gelowe die vrou moet die man onderdanig wees
Sulke mans wie dit nog glo of aanhang verag ek en moet hulle besef dat ons in ander tye lewe waar almal gelyk is en n vrou respekteer moet word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.