Man bedrieg Amazon uit miljoene rande

Foto ter illustrasie. (Foto: Amazon/Twitter)

ʼn Kliënt van die Amerikaanse e-handelsmaatskappy Amazon kan tot 20 jaar tronkstraf opgelê word nadat hy jare lank die multinasionale maatskappy uit miljoene rande bedrieg het.

Hudson Hamrick (31) het van 2016 tot verlede jaar nog duur produkte by Amazon bestel en dan bedrieglike terugbetalings van die maatskappy verkry deur items wat aansienlik goedkoper of stukkend was, terug te gee.

Uit meer as 300 bedrieglike transaksies het hy Amazon uit nagenoeg $290 000 (R4,3 miljoen) gekul.

Luidens ʼn verklaring deur die departement van justisie in die Amerikaanse deelstaat Noord-Carolina het hy onder meer elektroniese toestelle, kitare, gereedskap, rekenaars en ander duur verbruikersprodukte by Amazon gebuit.

Hamrick het meeste van dié produkte vir homself gehou of aanlyn, teen ʼn wins, verkoop.

Die 31-jarige inwoner van Charlotte het verlede week in die hof verskyn waar hy skuld beken het. ʼn Datum vir sy vonnisoplegging is nog nie vasgestel nie.

Die departement het gesê hy kan tot 20 jaar tronkstraf gevonnis word, asook ʼn boete van $250 000 (R3,7 miljoen).

Tydens die hofverrigtinge het verskeie voorbeelde van Hamrick se bedrieglike transaksies aan die lig gekom. In een van dié gevalle het hy ʼn Apple iMac Pro vir $4 256 (R63 900) by Amazon bestel. Ná ongeveer twee weke het hy die terugbetalingsproses by Amazon begin, wat later toe sy geld aan hom terugbesorg het, berig Business Insider.

In plaas daarvan om die iMac Pro terug te gee, het hy egter ʼn veel ouer model met ʼn heeltemal ander reeksnommer teruggestuur.

ʼn Week voordat hy die terugbetalingsproses by Amazon begin het, het hy die einste iMac Pro op ʼn ander aanlyn platform verkoop.

Volgens ʼn woordvoerder van Amazon het die maatskappy die bedrieglike transaksies ontdek en die saak na die owerhede verwys.

“Amazon het voorsorgstelsels wat enige verdagte optrede opspoor en ondersoek,” het die woordvoerder gesê.

“Daar is nie plek vir bedrog by Amazon nie, en ons sal seker maak dat die skuldiges aan die pen ry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

cccp ·

“Amazon het voorsorgstelsels wat enige verdagte optrede opspoor en ondersoek” – wel, het julle lank genoeg geneem om hierdie bedrog op te spoor.

Misky ·

Hy het julle ore aangesit Amazon!!!! Na 300 transaksies het julle hom eers uitgevang en deur sy eie stupidgeit. Mens sou dink so groot maatskappy sal vinniger agterkom selfde persoon stuur elke keer goedere terug.

Deonne ·

Dit sal nie eers n ‘Dent’ aan Jeff Bezos se sak maak nie.

Frank ·

Vraatsig geraak. Indien hy by goedkoper produkte gebly het wat nie liggies laat aangaan nie….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.