Man beken skuld vir moord op Olimpiese medaljewenner

Denis Ten van Kazachstan in Februarie 2018 by die Gangneung-ysskaatsbaan tydens die Winter Olimpiese Spele in Gangneung in Suid-Korea. Foto: David J. Phillip/AP

Owerhede in Kazachstan het Vrydag gesê ʼn man is in hegtenis geneem nadat hy erken het dat hy die Olimpiese figuurskaatser, Denis Ten, vermoor het.

Berik Zhuyrektayev, die staatsaanklaer, het in ʼn verklaring gesê Nuraly Kiyasov het in die teenwoordigheid van sy prokureur skuld beken terwyl hy oor die 25-jarige figuurskaatser se dood ondervra is. Die aanklaer het nie meer besonderhede bekendgemaak oor wat presies Kiyasov aan die polisie gesê het nie.

ʼn Tweede man, Arman Kudaibergenov, word nou deur die polisie gesoek in verband met Ten se moord.

Ten is Donderdag in Almaty, sy tuisstad, doodgesteek tydens ʼn rusie met mense wat glo die spieëltjies van sy motor af wou steel. Hy het talle steekwonde opgedoen en het in ʼn hospitaal weens erge bloedverlies gesterf.

Sy dood het skokgolwe deur die land gestuur.

Die Kazinform-nuusagentskap berig Kiyasov is Vrydag onder sterk polisiebewaking na die misdaadtoneel geneem as deel van die ondersoek.

Ten het in 2014 in Sochi in Rusland op die Winter Olimpiese Spele ʼn bronsmedalje gewen en daarmee Kazachstan se eerste Olimpiese medaljewenner in figuurskaats geword. Hy het in 2015 die Vier Vastelande figuurskaats-kampioenskap gewen en was ook in 2013 ʼn silwermedaljewenner in ʼn wêreldkampioenskap.

Ten het die afgelope paar jaar met beserings gesukkel en kon in Februarie op die Olimpiese Spele in Pyeongchang net ʼn 27ste plek behaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.